NewsNews

Waterkrisis: Gauteng dalk die volgende Kaapstad

Gauteng gaan binnekort in die voetspore van Kaapstad volg as munisipaliteite in die provinsie nie dringend gaan ophou met die onnodige vermorsing van water nie, sê Philip van Staden, VF Plus-LPW vir Gauteng, na afloop van ‘n vergadering van die plaaslike regeringskomitee van die Gautengse wetgewer.   Van Staden sê Rand West-munisipaliteit, Merafong-munisipaliteit en Mogale …

Gauteng gaan binnekort in die voetspore van Kaapstad volg as munisipaliteite in die provinsie nie dringend gaan ophou met die onnodige vermorsing van water nie, sê Philip van Staden, VF Plus-LPW vir Gauteng, na afloop van ‘n vergadering van die plaaslike regeringskomitee van die Gautengse wetgewer.

 

Van Staden sê Rand West-munisipaliteit, Merafong-munisipaliteit en Mogale City is die grootste sondaars in dié provinsie met onderskeidelik 65%, 50% en 44% waterverliese.  Johannesburg 44%, Emfuleni 32%, Ekurhuleni 30.1%, Midvaal 28%, Lesedi 22% en Tshwane 20% dra verder by tot die provinsie se waterverliese. Dit bring die totale persentasie vir Gauteng munisipaliteite te staan op 36% teenoor die nasionale syfer van 36.7%.

 

Indien daar nie dringend water bespaar word en aandag aan die instandhouding van waterinfrastruktuur gegee word nie, sal Gauteng binnekort in dieselfde verknorsing as Kaapstad sit, maar op ‘n veel groter skaal.

 

“Die oorsake van waterverliese in Gauteng is skrikwekkend. Dit sluit in:

– diefstal en beskadiging van infrastruktuur

– wanbetalings

– uitreik van verkeerde rekeninge

– foutiewe watermeters

– waterlekkasies

– gebarste pype

– reservoirs wat lek

– diefstal van water wat insluit onwettige konneksies

– geblokte rioolstelsels

– misbruik van water deur huishoudings

– swak instandhouding en ou infrastruktuur

– suur mynwater.

 

“Bogenoemde beteken dat miljoene liter water die afgelope jaar in Gauteng verlore gegaan het.  In plaas daarvan om water te bewaar en te bespaar deur hierdie probleme uit te skakel en te herstel, is dit duidelik dat die LUR van plaaslike regering in Gauteng nog nie veel gedoen het om aandag aan die probleem te skenk nie.”

 

“Die VF Plus meen dat die politieke wil in Gauteng ontbreek om die kwessie dringend aan te spreek en dat inwoners self voorsiening sal moet begin maak vir die toekoms deur die sink van boorgate en die opvang van reënwater vir huishoudelike gebruik.

 

“Gauteng staan op die afgrond. Hierdie probleem kan erger wees as wat tans in Kaapstad ervaar word.  Miljoene mense woon en werk in Gauteng en jaarliks stroom nagenoeg 250 000 mense die provinsie binne.

 

“Dit is duidelik uit vanoggend se komiteevergadering dat die departement nou eers die erns van die situasie begin besef,” sê Van Staden.

 

 

 

Related Articles

Back to top button