HealthLifestyleNewsNews

Geldmaakplanne help sentrum om finansieel te oorleef

Epilepsie Suid-Afrika kry maar ’n geringe staatsubsidie van so min as 20%.

Epilepsie Suid-Afrika kry maar ’n geringe staatsubsidie van so min as 20%.

Dit laat ’n organisasie soos hierdie geen ander keuse as om inisiatief aan die dag te lê om fondsinsamelingsprojekte gereeld te loods om genoeg fondse te in om die sentrum in bedryf te hou en die dienste te lewer soos dit tans in die gemeenskap en aan sentrum-inwoners gelewer word.

Voeg daarby die lang wag van etlike maande voordat hierdie staatsubsidie ontvang word, medikasie wat uit eie fondse aangekoop moet word as staatsmedikasie nie beskikbaar is vir sentrum-inwoners wat chroniese medikasie daagliks benodig, en die feit dat subsidie net vir 35 van die 80 sentrum-inwoners ontvang word. Dan besef jy hoe nodig hulporganisasies soos Epilepsie SA die ondersteuning van die gemeenskap nodig het.

Die kleurryke pendeldiens minibussie van Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-sentrum waarmee mense, veral groepe, na enige bestemming vervoer kan word.
Die kleurryke pendeldiens minibussie van Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-sentrum waarmee mense, veral groepe, na enige bestemming vervoer kan word.

Maar aan geldmaak planne en geesdrif ontbreek dit beslis nie personeel van Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-sentrum in Parys nie. Een van hul inisiatiewe waarmee ’n tyd gelede begin is, is ’n pendeldiens. Die kleurryke minibus waarmee die pendeldiens gelewer word, kan verseker nie misgekyk word nie, en is ’n projek van Epilepsie SA vir fondsinsameling en ekonomiese bemagtiging.

Die pendeldiens word op versoek gelewer en is veral gemik op voorafgereelde groepe na watter bestemming ookal. Só is daar al selfs Kaap toe, Durban toe en na die China Mall op versoek gery. Groepe maak ook gereeld van dié bussie gebruik vir vervoer na en van troues en partytjies. Die minibus is moontlik gemaak danksy Lotto fondse. Chemcity het vir die kleurryke bemarking op die bussie gesorg.

Belangstellendes kan gerus vir Tertius Meyer by Epilepsie SA skakel by 082 328 1424 vir navrae en besprekings.

Nóg só ’n fondsinsamelingsprojek is die Dome Business Hub geskenk, snoepery en dekorwinkel in Breëstraat 93A. Die winkel is oop Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 16:00, Saterdae van 09:00 tot 15:00 en Sondae van 10:00 tot 13:00. Toeriste loer gereeld hier in om onder meer die werk van plaaslike kunstenaars en mense met gestremdhede te besigtig.

Daar word ook nou hard gewerk om die vervalle opleidingsentrum in Boomstraat 50, reg langs Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-sentrum in Parys, op te knap. Die opleidingsentrum is munisipale eiendom wat vir ’n drie jaar hernubare kontrak aan Epilepsie SA beskikbaar gestel is teen ’n minimale huur, op voorwaarde dat die organisasie dit self sal opgradeer. Die gedagte is om die sentrum te omskep in ’n kuns- en rekenaarsentrum.

Hiervoor is egter alle tipe boumateriaal soos stene, sement, vloerteëls, plafonborde, elektriese kabels, water- en rioolpype en selfs ou kombuiskaste en rakke nodig. Enigeen wat dalk van sulke materiaal wil ontslae raak of ’n skenking wil maak, is baie welkom om Epilepsie SA se plaaslike sentrum te skakel by 056 811 5959. Reëlings kan ook getref word dat die materiaal afgehaal word.

Sodra die gebou opgeknap en toiletgeriewe geskep is, sal Epilepsie SA se huidige kunsstudio in die nywerheidsgebied hierheen geskuif word, waar tans keramiekwerk, glas/”slumping fusion & draping” gedoen word, asook kerse, seep en vuurblokke gemaak word.

Related Articles

Back to top button