NewsNews

Eskom nie verplig om krag te voorsien sonder betaling, sê regter

Sou Ngwathe munisipaliteit nie spoedig sy agterstallige Eskom-skuld betaal nie, mag Eskom kragvoorsiening aan Parys, Edenville, Heilbron, Koppies en Vredefort sny.

Sou Ngwathe munisipaliteit nie spoedig sy agterstallige Eskom-skuld betaal nie, mag Eskom kragvoorsiening aan Parys, Edenville, Heilbron, Koppies en Vredefort sny. Só is in die Vrystaatse hooggeregshof verlede week beslis.

Regter Fouché Jordaan het wel sekere voorwaardes aan Eskom gestel voordat Eskom die dorpe se krag mag afsny. Hieronder tel ’n kennisgewing vier weke voordat die krag afgesny word met die afsnydatum wat gepubliseer moet word in ’n koerant wat in die dorpe versprei word.

Ook dat Eskom twee weke voor die tyd ’n kennisgewing van sy finale besluit om die krag af te sny aan Ngwathe moet stuur met die afsnydatum daarin gepubliseer.

Hoewel regter Jordaan in sy uitspraak erken het dat die afsny van krag ernstige probleme vir inwoners sal meebring en tot oproer in die gemeenskap kan lei, het hy gesê dat die hof die wet moet toepas en hom nie deur dreigemente van geweld kan laat gyselaar hou nie. Hy het gemaan dat dit die provinsiale en/of nasionale regering se plig is om situasies soos hierdie te voorkom.

Regter Jordaan het gesê Eskom kan nie verplig word om vir ’n onbepaalde tyd krag sonder betaling te voorsien nie. Boonop is opnuut weer gesê dat dit duidelik is dat die munisipaliteit in ’n finansiële krisis is, het Netwerk 24 na aanleiding van die uitspraak berig.

Die aansoek van Ngwathe om Eskom te verhinder om die krag af te sny is met koste van die hand gewys.

Related Articles

Back to top button