NewsNews

Blomprojek se toekoms nog glad nie rooskleurig

As daar nie gou ingegryp word nie, staan die Parys Flower Project met sy 1 000 Ludwig rose wat in twee kweekhuis-tonnels geplant is, die gevaar om jammerlik te misluk. Gazette het die afgelope twee weke berig oor die vele probleme wat die projek kortwiek. Die boorgatpomp was teen druktyd steeds stukkend, die koelkamer werk …

As daar nie gou ingegryp word nie, staan die Parys Flower Project met sy 1 000 Ludwig rose wat in twee kweekhuis-tonnels geplant is, die gevaar om jammerlik te misluk. Gazette het die afgelope twee weke berig oor die vele probleme wat die projek kortwiek. Die boorgatpomp was teen druktyd steeds stukkend, die koelkamer werk nie, en  boonop het van die vroue wat deur die projek begunstig is, ook nie meer motivering om daagliks die rose te kom versorg nie. Dinsdag was net een van die vroue by die tonnels. Monty het twee ander vroue gekry om haar te kom help skoonmaak en van die dooie rose af te sny.
Sy sê sy is bereid om alles in te sit om die projek te laat werk, maar van haar kollegas het  aangedui dat hulle nie meer gaan kom nie, omdat hulle dit nie kan bekostig om daagliks na die tonnels te gaan en dan geen inkomste uit die projek te kry nie. Sy sê hulle het nie eienaarskap van die projek nie, en weet nie hoe om die projek te bestuur nie.  Volgens haar lui haar foon opophoudelik sedert Gazette oor die rose berig het, met mense wat van die rose wil koop. Daar behoort volgende week weer rose te wees, en al moet sy alleen aangaan, sê sy, is sy bereid, as sy net kan leer hoe om die projek te bedryf.
Maar terwyl Monty nog hoop het vir die projek gooi die munisipaliteit op wie se grond die tonnels is, die begunstigdes van die projek, departement landbou en die implementeringsagent vir die projek die bal na mekaar oor hoe om die probleme wat die projek kortwiek, opgelos te kry.  Volgens die jongste inligting wat Gazette vandeesweek gekry het, sal verteenwoordigers van die implementeringsagent, Rekgonne van Bloemfontein, glo volgende week die projek besoek om die probleme met die besproeiing, koelkamer en opleiding op te los. Volgens inligting moet dit eers afgehandel word voordat die projek afgeteken kan word.
Die Vrystaatse regering het R2,2 miljoen  vir die projek begroot, waar naas rose, ook ander blomme in vier tonnels geplant sou word. Van die vier tonnels staan nog net twee, en net rose – geen ander blomme nie.
Dit wil voorkom asof die munisipaliteit die blaam vir die sukkelende projek vierkantig op die vroue se skouers wil plaas wie hulle voel skouer aan die wil moet sit om die projek te laat werk. Die vroue weer voel hulle kry geen ondersteuning nie. Die Vrystaatse departement van landbou moes die fondse oorbetaal en toesien dat die implementeringsagent die infrastrukuur opsit en die vroue oplei. Nou wil dit lyk asof die vroue net geleer is hoe om rose te plant, en dat die res van die opleiding wat later sou volg, ná ses maande nog nie afgehandel is nie.
Sedert Gazette oor die projek berig het, het talle inwoners al probeer om die projek te ondersteun maar het verskeie gesê dat hul by die tonnels gekom het, maar niemand daar kon kry nie. Esré Claassen vertel dat sy saam met ’n gastehuiseienaar ’n afspraak gemaak het om die vroue van die projek te sien, maar dat die vroue nie die afspraak nagekom het nie. Sy sê sy was bereid om haar tuinier te bring om die vroue te help om die rose reg te versorg en sal gereeld van die rose en selfs roosblare koop vir troues. Ook van die gastehuise het aangedui dat hulle bereid sou wees om gereeld rose te koop. Ander weer het navraag gedoen oor die moontlikheid om die projek oor te neem.
In Bloemfontein is ’n soortgelyk projek en die gedagte om Parys deel te laat hê in die blomme-industrie, het gevolg ná die eerste Free State/Madeira Flower Festival.Soveel geld is reeds in die projek belê en dit is duidelik dat Parysenaars wil ondersteun. Die vraag is of die VS regering, Ngwathe, landbou en die implementeringsagent tesame met die vroue, betyds oplossings sal kry vir die “doring in die vlees”, alvorens dit té laat is

Monty in die tonnels aan die werk.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button