NewsNews

Laksheid en personeeltekort kortwiek SAPD en benadeel publiek

ʼn Nare ondervinding die afgelope Saterdag by ’n plaaslike restaurant op Vryburg het opnuut bewys dat laksheid deur die polisie nie geduld moet word nie.

ʼn Nare ondervinding die afgelope Saterdag by ’n plaaslike restaurant op Vryburg het opnuut bewys dat laksheid deur die polisie nie geduld moet word nie. ʼn Toeris wat op besoek aan Vryburg was, het by Spur gaan eet toe sy motorsleutels verlore geraak het. Hy het die bestuurder van die restaurant om hulp genader en nadat beeldmateriaal op die restaurant se kameras deurgewerk is, kon daar duidelik gesien word hoe kliënte by die tafel langsaan die sleutels doelbewus geneem het.

Die restaurantbestuurder het die polisie geskakel, waarna die dame wat die telefoon beantwoord het, die bestuurder ingelig het dat nie ʼn enkele voertuig beskikbaar was om na die restaurant te stuur nie. Sy het ook volstrek geweier om haar naam bekend te maak en het verder gesê dat die klaer na die polisiestasie moet loop, hoewel hy nie eens bekend is met die dorp nie. Die restaurantbestuurder het sy kliënt gevolglik self na die polisiestasie geneem. Daar gekom, het drie hulpvaardige SAPD-lede hulle darem ingewag, na die sleuteldiewe vergesel en die klaer gehelp om sy sleutels terug te kry.

“Ons is daarvan bewus dat daar ʼn tekort aan personeel by Vryburg se polisiestasie is. Dit is egter onaanvaarbaar dat van die lede net eenvoudig nie lus is om die publiek te help nie. Dit gee ons dorp ʼn baie slegte naam en sal veroorsaak dat toeriste nie meer op Vryburg wil besoek aflê nie,” het Alta Swart, plaaslike koördineerder van AfriForum se Vryburg-tak, gesê.

AfriForum het die saak onder die polisie se aandag gebring, waarna daar belowe is om dadelik aandag daaraan te gee. “AfriForum doen ʼn beroep op die publiek om soortgelyke voorvalle onverwyld aan te meld, sodat ons die polisie kan help om optimaal te funksioneer. As die bevelvoerder nie van sulke voorvalle bewus is nie, kan absoluut niks daaraan gedoen word nie,” het Swart bygevoeg.

AfriForum het vantevore die personeeltekort onder die polisie-owerhede se aandag gebring, maar ʼn baie onbevredigende antwoord gekry. “Ons sal egter aanhou vra vir meer personeel by Vryburg se polisiestasie,” het Swart afgesluit.

Related Articles

Back to top button