NewsNews

Wildehondekop-skande

Terwyl die Valke verlede week met klopjagte begin het op die Vrystaatse premier, mnr. Ace Magashule se kantoor asook die provinsiale kantoor van die departement van landbou oor die omstrede suiwelprojek by Vrede, is inwoners van Parys stomgeslaan oor soortgelyke geldvermorsing met projekte op die plaas Wildehondekop net buite Parys op die Doverpad. Die hidroponiese …

Terwyl die Valke verlede week met klopjagte begin het op die Vrystaatse premier, mnr. Ace Magashule se kantoor asook die provinsiale kantoor van die departement van landbou oor die omstrede suiwelprojek by Vrede, is inwoners van Parys stomgeslaan oor soortgelyke geldvermorsing met projekte op die plaas Wildehondekop net buite Parys op die Doverpad.
Die hidroponiese projek is nagenoeg tien jaar gelede begin, ook met geld wat deur die Vrystaatse regering aan departement landbou bewillig is, het Gazette verneem. Die projek het 10 kweektonnels ingesluit waar groente in sakke met drupbesproeiing regdeur die jaar geplant sou kon word.
Nadat mense betrokke by die projek glo met van die geld “weggeloop” het, en so te sê alles gesteel is wat vir die projek opgerig is, het die departement van landbou weer 10 tonnels opgesit, ’n  stoor, badkamer, kombuis, groot koelkamer en twee toegeruste boorgate. Tussen 2010 en 2012 is nog 10 tonnels opgesit.  Vir ’n  rukkie is groente verbou met die projek met sy 10 werkers, maar as gevolg van konflik in die groep, is die projek gestaak, is verneem.
Die koste van die eerste 10 tonnels alleen was R1,5 miljoen. Die departement landbou het ’n mentor gekry om te help met die projek, maar daar kon glo nie samewerking tussen die mentor en die groep werkers gekry word nie.
Nog was dit nie die einde nie. Op dieselfde plaas is in 2014 twee hoenderhuise opgesit wat elk 40 000 hoenders sou kon akkommodeer. Die projek is net half voltooi en ook hier het swak beplanning miljoene gekos. Soveel so dat selfs die verkeerd bestelde toerusting uit China vandag nog in kartondose daar staan. Nuwe toerusting moes hierna weer teen nog koste aangekoop word.
Nodeloos om te sê dat die projek nog nooit van die grond af gekom het nie, maar ten spyte daarvan is nog twee hoenderhuise intussen gebou. Terwyl enorme bedrae begroot is om die projekte te voltooi, selfs nog vir die huidige finansiële jaar, is onbevoegde kontrakteurs, implementeringsagente wat oënskynlik nie die projekte kan deurvoer nie, swak beplanning en gebrekkige mentorskap tesame met die half voltooide geboue wat in wind en weer tot niet gaan, al om te wys. Geen produksie.
Selfs die heining moes al twee keer oorgedoen word. Daar is sekuriteit op die perseel wat maandeliks betaal moet word, maar die sekuriteitsbeamptes het nie eens ’n flits of radio’s om die geld wat in die spreekwoordelike water gegooi is, met die tonnels en hoenderhuise, op te pas nie.
Gazette het verlede week berig oor die rose-projek in Allenbystraat waar ná al die geld wat hier belê is, ook nog geen formele eienaarskap aan die vroue gegee is aan wie die projek toevertrou is, laat staan nog behoorlike opleiding, bemarkingsvaardighede, kennis oor die snoei en spuit van die rose.
Vir dié vroue is daar geen motivering om die projek te laat slaag sonder ’n  inkomste wat hulle hul eie kan noem nie. Iets wat eers kan gebeur as daar formele eienaarskap en ’n  besigheidsplan op die tafel is. Hoewel talle mense ná verlede week se berig in Gazette graag die vroue wil ondersteun deur van die rose te koop, is die vroue nie altyd daar nie, wat veroorsaak het dat mense leë hande moes omdraai. Mense word gevra om verkieslik vroegoggend te gaan om van die rose te koop, en kan  Monty by 079 347 2008 kontak vir meer inligting.
Daar kan maar net gehoop word dat die
kleurvolle skeepshouer-winkelsentrum op die ou Kommandogronde, h/v St Jan en Breëstraat, nie ook dieselfde pad sal loop nie.  Dit staan reeds geruime tyd leeg en onbenut. Die perseel is in Julie 2015 volgens ’n  raadsbesluit teen markwaarde verkoop aan ‘n privaat ontwikkelaar vir gebruik as handelsperseel, onderhewig aan ’n formele kontrak. Hierdie raadsbesluit is blykbaar nooit herroep nie. DA-raadslede probeer meer as ‘n jaar reeds vasstel wat die regsposisie nou is, sonder sukses. “Die kleurvolle winkeltjies is dalk ‘n aanwins vir die dorp, veral as hulle in bedryf kom, maar ons het die reg om te weet in watter mate Ngwathe-munisipaliteit betrokke is, en waarom ‘n raadsbesluit nie uitgevoer is nie,” sê hulle.

Miljoene se kweektonnels waar daar in jare geen produksie was nie, in wind en weer en deur ‘n brand beskadig.
Links voor kan die kartondose met verkeerd bestelde toerusting uit China gesien word.
Die onvoltooide hoenderhuise wat in wind en weer verwaarloos.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button