NewsNews

Dié grafbesoeke wek kommer

Twee voorvalle is die afgelope week in die Kopjeskraal-omgewing gerapporteer waar dieselfde mense met ’n  voertuig met ’n Vrystaatse registrasienommer by ’n plaasingang opgemerk is. By navraag is die eienaar meegedeel dat die  persone besig is om grafte skoon te maak in die omgewing, en dat hulle die graf van hul suster wat op die …

Twee voorvalle is die afgelope week in die Kopjeskraal-omgewing gerapporteer waar dieselfde mense met ’n  voertuig met ’n Vrystaatse registrasienommer by ’n plaasingang opgemerk is.
By navraag is die eienaar meegedeel dat die  persone besig is om grafte skoon te maak in die omgewing, en dat hulle die graf van hul suster wat op die plaas begrawe is, kom skoonmaak.
Die suster is na bewering op die plaas oorlede en daar begrawe in die tydperk toe die vorige eienaar nog op die plaas gewoon het, meer as 20 jaar gelede.
Die huidige eienaar was onbewus van die bestaan van die sogenaamde graf op haar plaas.
Die Kopjeskraal Gemeenskap Reaksie-eenheid wat  met die samewerking van Landelike Gemeenskap Veiligheid (LGV) deur mnr. Kobus de Meyer gestig is, is van die voorval in kennis gestel.
By nadere ondersoek is gevind dat twee nuwe grafte op die huidige eienaar se plaas gegrawe is, sowat 100m vanaf die ingang waar die persone vroeër die dag gesien is.
Die voorval is aan die Buffelshoek-polisie  gerapporteer en ’n saak van onwettige betreding is gerapporteer.
Daar is op dieselfde dag ook toegang verkry by ’n ander plaas in die Kopjeskraal-omgewing onder dieselfde voorwendsel dat grafte skoongemaak gaan word.
Die plaas het volgens die eienaar ook geen grafte nie.
Hoewel grondeienaars en veiligheidsorganisasies nie daarteen gekant is dat mense toegelaat moet word om hul geliefdes se grafte te kan besoek nie, is dit in die lig van grondeienaars en hul werkers se veiligheid baie belangrik dat die bestaande protokol vir grafbesoeke  gevolg moet word, en die grondeienaar vooraf in kennis gestel moet word.
Inwoners in die omgewing word daarom gewaarsku om nie onbekende persone toestemming te gee om sogenoemde ou grafte skoon te maak nie, veral waar nie vooraf die nodige toestemming verkry en reëlings getref is nie. Soortgelyke voorvalle moet gerapporteer word sodat die nodige aksie geneem kan word.
Mense kan ook LGV se noodnommer 076 683 4544 of Kobus de Meyer by 073 232 3743 skakel.
* Buffelshoek-polisiestasie het onlangs verklaar dat veediefstal in dié polisiestasie se bedieningsgebied tot  70 % afgeneem het die afgelope tyd, nadat lede van die gemeenskap betrokke geraak het, en begin het om patrollies te ry.
Wat vereis plaasbesoek protokol?
Aanvaarde protokol vir besoeke aan plase en kleinhoewes word genoodsaak deur die onaanvaarbare veiligheidsituasie in die land.
As gevolg van hoë misdaadsyfers word grondeienaars genoodsaak om soos alle ander sakelui doeltreffende maatreëls te tref om hulle en hulle personeel se belange te beskerm.
Die eienaar van private grond het dus die reg om toegang tot die grond te beheer en om gepaste maatreëls vas te stel.
Regeringsamptenare (uitsluitend lede van die polisie wat ‘n misdaad ondersoek), semi-owerheidsinstansies, diensverskaffers, waardeerders en grondeisers, soos alle ander mense, het geen outomatiese reg tot toegang tot plase nie, en wie ookal toegang tot ‘n plaas verlang, moet die vereistes van die protokol nakom.
Enige persoon wat ‘n spesifieke plaas wil besoek, moet betyds die nodige reëlings tref om die eienaar te pas.
Die grondeienaar is nie verplig om tot die besoek in te stem nie, en mag op enige stadium hulp/ondersteuning van die polisie vra.
Die grondeienaar of sy gevolmagtigde moet die volgende bepaal: die datum; presiese tyd vir die aanvang en duur van die besoek; die volledige identiteit wat gestaaf moet word van elke individu of organisasie wat betrokke mag wees, en die doel van die besoek.
By enige aanduiding van kwaadwilligheid sal die eienaar die aansoek aflas en/of die saak na die polisie verwys.
Toegang op die afgesproke tyd sal streng beheer word en alle besonderhede wat vooraf voorsien is, moet klop met dié ter hand tydens toegang.
Afwyking hiervan sal maak dat die besoek afgelas word. Groepe persone sal beperk word tot ’n  getal soos vooraf ooreengekom.
Daar moet streng gehou word by die vooraf ooreengekome doel van die besoek.
Sou daar enige afwyking van die ooreenkoms dreig, of ‘n ontwrigting of gebrek aan goeie orde, kan die eienaar die besoek aflas en/of die besoekers beveel om die plaas te verlaat. Hy het dan die reg om strafregtelike vervolging vir betreding te eis.
Die plaaseienaar mag enige tyd die besoek/gesprek opskort en advies kry oor sy/haar regte ten opsigte  van die situasie.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button