Dok Gerrie lê eersdaags die tuig neer
Vir baie was hy hulle dokter vir 45 jaar, maar nou het dit tyd geword om die tuig neer te lê. Dr. Gerrie van der Westhuizen sluit einde Februarie sy praktyk in Middelstraat, maar sal in Parys aanbly by Sally Martin Park waar hy en sy vrou Isabel, reeds gevestig is. Dok Gerrie het destyds …

Vir baie was hy hulle dokter vir 45 jaar, maar nou het dit tyd geword om die tuig neer te lê. Dr. Gerrie van der Westhuizen sluit einde Februarie sy praktyk in Middelstraat, maar sal in Parys aanbly by Sally Martin Park waar hy en sy vrou Isabel, reeds gevestig is.
Dok Gerrie het destyds van Pretoria gekom en hier in Parys vir die eerste keer kom praktiseer – aanvanklik vir die eerste 15 jaar saam met wyle dr. Theron in Philipstraat, en daarna alleen in die praktyk in Middelstraat.
Die egpaar het vyf kinders, waarvan twee van hul dogters ook in Parys gevestig is. Hulle is die fisioterapeut Annelien Marais, en sakevrou, Laurika Odendaal. Hul ander drie kinders is in Johannesburg gevestig. Die egpaar het ook 11 kleinkinders. Noudat hy aftree, sal hul hopelik meer kan sien van hul huis in Stilbaai, skerts hy. Hoewel die praktyk nou sluit, kan dok Gerrie terugkyk op ’n mooi pad wat hy oor jare met soveel pasiënte kon saamstap.



