Advokaat se dood ‘n groot slag vir verdediging
Die dood van die 54-jarige adv. Nico Dreyer Vrydagaand, is ’n groot slag vir die regsspan wat verskyn vir die ses mans van Parys wat tereg staan op aanklagte van moord ná die dood van Simon Jubeda en Samuel Tjixa op 6 Januarie 2016. Daar sal nou indringende besluite geneem moet word oor die pad …

Die dood van die 54-jarige adv. Nico Dreyer Vrydagaand, is ’n groot slag vir die regsspan wat verskyn vir die ses mans van Parys wat tereg staan op aanklagte van moord ná die dood van Simon Jubeda en Samuel Tjixa op 6 Januarie 2016.
Daar sal nou indringende besluite geneem moet word oor die pad vorentoe vir die verdediging se regsspan.
Dreyer, ’n baie bekende advokaat in Bloemfontein, het die afgelope paar jaar gesondheidsprobleme ondervind.
Hy is deur verskeie van sy vriende en kollegas beskryf as iemand met ’n groot hart, uiters professioneel en een van die mees etiese advokate in die beroep.
Hy het saam met prokureurs Kobus Burger, Hannes Grimbeek en Gideon Mandelstam verskyn namens Boeta van der Westhuizen, sy seun Loedie en skoonseun Miela Jansen van Vuuren, asook Anton Loggenberg en sy seun Cor en kapt. Henk Prinsloo, wat aangekla is ná die dood van Jubeda en Tjixa.
Dreyer sou dan ook deel gewees het van die span wat weer van 2 tot 18 Mei en 4 tot 8 Junie hier in die hooggeregshof sou verskyn het vir die verhoor van die ses mans.
Dreyer was op sy dag ’n kranige rugbyspeler en het ook graag duiwe gevlieg. Hy word oorleef deur sy vrou Annalene en twee seuns, Nico en Janco.



