OVV se tannie Poppie sterf
Poppie Truter wat vir soveel jaar deel was van die kantoor van die destydse Oranje Vroue Vereniging in Parys (nou Vrystaat Versorging in Aksie), is Saterdagaand in die ouderdom van 79 jaar vermoedelik aan ’n hartaanval in haar huis in Derdelaan oorlede. Min mense wat al ’n aantal jare in Parys gevestig is, ken nie …

Poppie Truter wat vir soveel jaar deel was van die kantoor van die destydse Oranje Vroue Vereniging in Parys (nou Vrystaat Versorging in Aksie), is Saterdagaand in die ouderdom van 79 jaar vermoedelik aan ’n hartaanval in haar huis in Derdelaan oorlede.
Min mense wat al ’n aantal jare in Parys gevestig is, ken nie die gesig van tannie Poppie, soos sy alom bekend was. Óf dit as sektretaresse in die destydse OVV-kantoor was, of as ma, ouma, oumagrootjie of vriendin – haar saggeaarde persoonlikheid en die manier hoe sy altyd almal wat haar pad gekruis het se belange op die hart gedra het, was so eie aan haar.
So was tannie Poppie een van daardie mense wat jou dag in ’n oomblik kon opkikker en met wie jy graag ’n geselsie wou aanknoop waarna sy met opregte meelewing sou luister.
Tannie Poppie is oorlede in die huis wat haar man destyds nog self vir hulle in Derdelaan gebou het, en waar sy die afgelope 47 jaar gewoon het.
Sy was in haar lewe naas haar sekretariële werk by die OVV, ook baie betrokke by die NG gemeente Parys-Suid waar haar begrafnisdiens waarskynlik ook Vrydag gehou sal word.
Tannie Poppie word oorleef deur haar kinders, Herman, Danie en Chrisna, haar kleinkinders Shaun, Wynand en Mienke Truter, Bianca en Crystal-lee Truter en Heike en Dieter Stoppel, asook haar agterkleinkinders Reuvhan Jacobs, Juvandré Jacobs, Avery Truter en Zandre Truter.


