NewsNews

Familie treur oor staatmaker boer, pa en oupa

“‘n Megaboer het vandag in die hemel aangekom. Liefste Pappie. Ek glo jy het reeds ‘n draai by die beeskrale, krippe en windpompe gemaak en dat jy al lang stukke gesels met Mammie en al die ander wat julle voorgegaan het.” “Ek is oneindig hartseer om jou te verloor. Maar daar is soveel van jou …

“‘n Megaboer het vandag in die hemel aangekom. Liefste Pappie. Ek glo jy het reeds ‘n draai by die beeskrale, krippe en windpompe gemaak en dat jy al lang stukke gesels met Mammie en al die ander wat julle voorgegaan het.”
“Ek is oneindig hartseer om jou te verloor. Maar daar is soveel van jou wat ek vir ewig met my sal saamdra. Vrydag sal ons jou bêre in die grond in Afrika waarvoor jy so lief was en tot die bitter einde geveg het. Jy was die sterkste mens wat ek geken het. Fisies en geestelik. Jy was ‘n ware boer wat na aan die natuur en jou Skepper geleef het. Ons kan die Here net dank vir 74 jaar wat jy vir ons geleen is. Rus in Vrede my Oupie. Jy het altyd jou alles gegee.”
Met die diep woorde het Loedie van der Westhuizen Sr se dogter, Alet, gister aan hom op Facebook hulde gebring.
Loedie is op 10 Januarie oorlede. Die begrafnisdiens is môre, 12 Januarie om 15:00 vanuit die NG gemeente Parys-Oos.
Loedie van der Westhuizen (74) was ’n  vooraanstaande boer in die Parys-distrik.
Hy is op 15 Maart 1943 gebore, en het op 16-jarige ouderdom begin boer. Hy is in 1967 met Christa le Roux getroud. Sy het hom in April 1991 ontval.
As suksesvolle saaiboer, en later beesboer, wat eers op die plaas Soar, en later Biesiesbult gebly het, het hy sy stempel in die gemeenskap afgedruk en ’n  blywende indruk op mense gemaak.
Vir sy kinders, Boeta, Rikkie en Alet, en kleinkinders, Christa, Loedie, Karla en Mari, was hy ’n  staatmaker Pa en Oupa, wat deur sy lewe en wandel ’n  voorbeeld en rolmodel was.
Hy sal onthou word vir sy hardwerkendheid, deursettingsvermoë, eerlikheid en onwrikbare geloof in wat reg en verkeerd is, sê sy kinders.
“Hy was die laaste boer van sy generasie wat tot aan die einde van sy lewe gewerk en in murg en been boer gebly het. Sy gelyke was daar nie.”
“Toe hy twee jaar gelede op sy plaas aangeval is, het hy ondanks die trauma wat daarna gevolg het, op sy plaas gebly en elke dag voltyds geboer. Hy het nie gaan lê nie, en elke dag in geloof aangepak dat dit weer beter sal gaan.”
Sy heengaan is ’n  groot verlies vir die gemeenskap en sy geliefdes.
Biesiesbult is stil.
* Ons innige medelye met die familie.

Related Articles

Back to top button