NewsNews

Eerste kunstefees van die ooste tot die weste vir Parys

Met die talle kleurvolle geskenkwinkels, restaurante, galerye en pikante koffiewinkels in Parys, asook die groot aantal inwonende kunstenaars, skep Parys ’n kunssinnige atmosfeer vir menige besoekende toeris.  Ongelukkig stel die atmosfeer soms teleur, want die “kuns” is nie altyd volop, maklik te vinde en/of toeganklik nie. Om verskeie redes is dit ook moeilik vir besoekende …

Met die talle kleurvolle geskenkwinkels, restaurante, galerye en pikante koffiewinkels in Parys, asook die groot aantal inwonende kunstenaars, skep Parys ’n kunssinnige atmosfeer vir menige besoekende toeris.  Ongelukkig stel die atmosfeer soms teleur, want die “kuns” is nie altyd volop, maklik te vinde en/of toeganklik nie. Om verskeie redes is dit ook moeilik vir besoekende kunstenaars om deur Parys te toer of om versamelings hier uit te stal.  Inwoners van Parys en meer spesifiek hul kinders word dus ontneem van die integrale en noodsaaklike blootstelling aan kuns en kultuur.
Daarom bied die Parys Kunste Korps (’n sambreelorganisasie vir die kunste in Parys) met trots die Parys Arts Festival. Die fees beoog om ’n belangrike gebeurtenis op Parys se jaarlikse kalender te word, en sal geleenthede skep vir ’n verskeidenheid van kunsvorme soos onder meer skilder, beeldhou, keramiek, musiek (jazz, klassiek ensovoorts.) dans, fotografie, pewter, messe, juwele, drama, opvoerings, kinderkuns, straatteater, mime, handwerk, kleremaak, sjefs, ensovoorts.
Die idee is ook om Parys in geheel te bemark aan besoekers en daarom sal uitstallings, werkswinkels en opvoerings vanaf Casa Cara in die ooste tot Stonehenge in die weste tydens die fees plaasvind.  Daar sal ’n oorkoepelende webwerf wees wat al die lokale en gebeure sal uitlig, en besoekers sal letterlik deur die area kan “toer” om al die punte te besoek. Nog nooit tevore was daar so ’n inklusiewe bemarkings- en toerisme geleentheid.   Dit is ook die eerste fees in Suid-Afrika wat tegelykertyd in twee provinsies plaasvind, naamlik die Vrystaat en Noordwes.
Die fees vind plaas vanaf 29 Maart tot 15 April. Om te verseker daar is ’n groot besoekertal, sluit dit drie naweke in en val ook oor die skoolvakansie en Paasnaweek.
Die eerste naweek (Paasnaweek) sluit in onder andere die openingsfunksie met lewendige musiek. Op Goeie Vrydag sal die organiseerders poog om ’n strykorkes en sandkuns opvoering daar te stel.  Saterdag bied Echo Wine Events ’n fantastiese wynfees aan waar daar 20+ wynplase verteenwoordig sal word by verskeie venues deur Parys.
Daar is ook die aand ’n tema-ete wat insluit ’n viergang maaltyd  met uitsoek wyne. Die tema vir die aand is “Parys, Frankryk.” (Besoek die webwerf wat in die berig aangedui word, vir meer inligting.)
Die daaropvolgende naweek tydens die Hartelus Mark by Egweni sal ’n  “Art-in-the-Park” uitstalling gehou word waar enige kunstenaars spasie sal kan bespreek om hul  Gazebo’s te kom opslaan en hul kuns uit te stal. Die kuns-in-die-park sal sorg dat die hele park vanaf Egweni tot by Grewarlaan volgepak sal wees met uitstaande kunswerke.
Die derde naweek sal die fees afsluit met ’n straatkarnaval. Die organiseerders beoog om Middelstraat te sluit tussen Jimmy Jaggers en The Garden waar die karnaval sal plaasvind. Daar sal stalletjies, kos, kuns, mime’s en ’n verskeidenheid van lewendige musikante en straatkunstenaars wees.
Lokale wat deel is van die fees, sluit ondermeer in Stonehenge in Africa, Egweni, The Dog & Fig Brewery, The Garden Lifestyle Centre, Kiki’s, Dieu Merci!, Pines Antiques, Hennie Kruger Galery, Coral Art Galery, Die Rooi Granaat Galery, En Style, Devondale, Hotel Le Grand Chateau, Godlife, Parys stasie, die pomphuis en Palesa Precinct.
Daar word heelwat gesogte kunstenaars van buite Parys na die fees genooi om ’n hoë standaard daar te stel, en om ’n wye reeks kuns aan die publiek te bied.  Kunstenaars wat reeds deelname bevestig het, is: Mariaan Kotze, Susan Greyling, Nic Oosthuizen, Wim Rautenbach, Gretchen Crots, Rika Senekal, Dieter Berner, Manthata Solly, Coral Fourie, Hennie Kruger, Riaan Van Den Berg, Nico van Rensburg, Phillip Steyn, Rentia Coetzee, Wess-lee, Victoria Janeke Botma, Jennifer Steyn, Thea van Staden, Cobus van Wyk, Karin TerBlanche, Smit Engelbrecht, Sonja Trautman, Louise de Klerk, Wilma Marais, Candice vd Westhuizen, Lisa Cullinan, Ilze Botha, Belinda Elrix, Waterfall Galery en Objects.
Die fees is oop vir ’n verskeidenheid van kunsvorme en alle kunstenaars van kinders tot gevestigde meesters is welkom. Kunstenaars van Parys en die omliggende omgewing word gevra om die organiseerders so gou moontlik te skakel vir insluiting by die fees.
Daar is op 13 Januarie om 14:00 ’n inligtingsessie vir plaaslike kunstenaars en enige belangstellendes by The Garden Koffiewinkel, Middelstraat 8, Parys. Die sukses van só ’n fees is onderhewig aan borge en enige belangstellendes word gevra om die organiseerders te kontak. Vir meer inligting gaan kyk na die fees webwerf www.parysartsfestival.co.za of skakel Karin by 083 409 9041 of Deon by  Deon@deonterblanche.co.za of 083 338 4234.

Related Articles

Back to top button