NewsNews

Opwindende musiekkursusse by Koepel Kunstesentrum

Die Koepel Kunstesentrum op die plaas Deelfontein in die Vredefort Koepel, bied sedert 2008 jaarliks verskeie musiekseminare, konsertprojekte en meestersklasse aan. Die hoogtepunte van 2017 – die Mozart Requiem, en ’n uitvoering van meerkorige werke van Heinrich Schütz – word in 2018 oortref deur drie besondere musiekgebeurtenisse. In Februarie vind die internasionale musiekseminaar, Cantare e …

Die Koepel Kunstesentrum op die plaas Deelfontein in die Vredefort Koepel, bied sedert 2008 jaarliks verskeie musiekseminare, konsertprojekte en meestersklasse aan. Die hoogtepunte van 2017 – die Mozart Requiem, en ’n uitvoering van meerkorige werke van Heinrich Schütz – word in 2018 oortref deur drie besondere musiekgebeurtenisse.
In Februarie vind die internasionale musiekseminaar, Cantare e Sonare, op Deelfontein plaas.
Hierdie kursus word gewoonlik in Oostenryk of Suidtirool aangebied. Vanjaar lei Norbert Brandauer, dirigent by die Weense Seunskoor en aanbieder van die Schützprojek van die Koepel Kunstesentrum in 2016, die seminaar.
Van die 60 deelnemers kom meer as 40 uit die buiteland. ’n  Program van werke van Schütz, Monteverdi, di Lasso, Schein en ander komponiste van die vroegbarok sal ingestudeer word en in die NG Kerk Vredefort en in Pretoria uitgevoer word.
Benewens die dirigent Brandauer, sal vier musiekdosente, onder andere van die Mozarteum in Salzburg, die instrumentaliste voorberei en verskeie baroktrombone en kornette sal by die konserte te hoor wees.
Die Messias van Händel word in Mei in samewerking met die St. John’s College seunskoor aangebied, met konserte in Johannesburg, Pretoria, Sasolburg en Vredefort. Die orkes word gelei deur die Amsterdamse barokvioliste Antoinette Lohmann, wat reeds verskeie jare met groot geesdrif projekte en meestersklasse in Suid-Afrika aanbied.
Soos meeste projekte van die Koepel
Kunstesentrum, sal op die oorspronklike barokinstrumente gespeel word en in ’n histories korrekte weergawe met ‘n klein koor van ongeveer 16 sangers te hore wees.
Benewens die Messias, word ‘n kamermusiekprogram van barokmusiek vir hobo, viool en basso continuo beplan.
Werke van Beethoven sal in September op oorspronklike klassieke instrumente uitgevoer word ter afsluiting van ‘n kursus van meestersklasse in viool en horing. Die bekende Septet van Beethoven vir klarinet, fagot, horing en strykers is ‘n rigtingwysende kamermusiekwerk van die klassieke tydperk wat verskeie latere komponiste, soos Schubert en Francaix, geïnspireer het om vir hierdie besetting te komponeer. Besonderhede oor die kursusse en konserte is op www.deelfontein.co.za beskikbaar, en op Facebook onder Dome Arts Retreat. Die uitvoering van die seminaar Cantare e Sonare in Vredefort is op Saterdag 17 Februarie om 18:30.

Related Articles

Back to top button