BlogsOpinions

Nuwejaarsvoorneme

Liewe Persoon, Die oujaar se lus is geblus en 2017 hang verlep rond saam met die faux fur trend van 2016. Ek gaan eerlik wees: ek is verlig. Verlede jaar was rowwer as Brixton op die vooraand van Guy Fawkes. Of nog erger: ‘n karsiek peuter wat hals oor kop in ‘n pak kaaskrulle ingeduik het. Die nuwe …

Liewe Persoon,

Die oujaar se lus is geblus en 2017 hang verlep rond saam met die faux fur trend van 2016. Ek gaan eerlik wees: ek is verlig. Verlede jaar was rowwer as Brixton op die vooraand van Guy Fawkes. Of nog erger: ‘n karsiek peuter wat hals oor kop in ‘n pak kaaskrulle ingeduik het.

Die nuwe jaar gaan beter wees. Dit moet net!

Ter voorbereiding van alles nuut, vars en onbekend (maar fantasties en geheel lekker) het ek vanjaar my lys met nuwejaarsvoornemens met entoesiasme saamgestel. Jy sien, daar is ‘n trick – soos met so baie ander dinge in die lewe (dink maar net aan die perfekte mikrogolf popcorn: die pakkie sê een minuut en 40 sekondes, maar dit is eintlik twee minute en 30 sekondes), en hoe gouer mens die voornemens game verstaan hoe beter.

Dit is baie belangrik om nie al reeds met jou eerste voorneme jouself in die voet te skiet nie. NEE. Jy kan onmoontlik nie ses dae van die week in die gym spandeer nie, tensy jy daar werk. Wees realisties. Jy sal jouself innig dankbaar wees hier teen die tweede week van Januarie wanneer jy reeds meer tyd in die gym as by die kerk spandeer het en die stokmannetjie-skuifel jou nie eens toelaat om te nies of ‘n kuggie te gee nie – altans nie in die openbaar nie. Laasgenoemde is te danke aan stywe kuitspiere en ‘n chroniese brandpyn as jy probeer asemhaal.

So. Ek gaan meer oefen as in 2017. As jy in ag neem dat ek in 2017 meestal net gesit het – voor die rekenaar, voor die televisie, in vergaderings en in die motor, is ENIGE fisiese aktiwiteit al ‘n verbetering! So is elke tree wat ek gee ‘n prestasie, of hoe?

Dan. Geen voornemenslys is sy sout werd sonder om melding te maak van óf gewigsverlies óf ‘n nuwe (kits) dieët nie. En weereens – moenie jouself reeds in Januarie die josie in maak vir die arme kassier by die groentewinkel nie. Hy/sy werk net daar en moet uit die aard van hul beroep jou komkommers, blaarslaai, blomkool en wortels hanteer. Ek ken mense wat baie drasties (en dramaties) kan wees as dit kom by sake van die heupmaat: daar is die  US Army Diet met baked beans en swart koffie, die – met permissie gesê, die Afblaas-dieët in die vorm van ‘n seldery,- kool- en botterboonsop, en dan die “Ek-eet-niks-met-oë-nie-dieët (wat eintlik meer van ‘n geit is as ‘n properse dieët).  Onthou net, aartappels het ook ogies.

So. Ek gaan minder eet. Ja, van my etes sal ‘n boerbok laat kwyl, maar ek gaan myself nie uithonger nie. Ek sal byvoorbeeld kaalgat grondboontjies eet opposed to Woollies se grondboontjie-Chuckles, maar ek trek die streep by bros gebraaide krulkool (kale).

Het jy die trick agtergekom? Wees minder spesifiek, maar committed. Dink mooi daaroor: oujaarsaand het ‘n manier om ons almal ‘n bietjie (lees: baie) broos en bevange te maak. As die vrugtekoek klaar is, die vonkelwynproppe deur die pool gobbler opgeslurp is en die bure (eindelik) die laaste bomb cracker afgeskiet het, dan tref dit jou: nog ‘n jaar is verby. Ek word nie jonger nie. Ek is steeds nie getroud nie. Ek moet óf vrede maak met my dubbelken óf plastiese snykunde oorweeg. Ek is vergangklik. Vandag hier…môre no more.

Nou ja.

Ek sit hier en teug aan my glasbottel vol water (sies vir plastiek!) en loer na my Provitas – sonder kaassmeer, maar ek is happy – voornemens en al.

Mag 2018 vir jou ook happiness inhou!  

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button