20 jaar geledeBlogsNewsOpinions

Puk en Landboukollege slaags oor bakleiery – ‘95

Die inleidingsparagraaf van die hoofberig in die Herald van 30 Mei 1995 sê die jarelange sportbande tussen die Puk-studente en dié van die Landboukollege is in die weegskaal.

Die inleidingsparagraaf van die hoofberig in die Herald van 30 Mei 1995 sê die jarelange sportbande tussen die Puk-studente en dié van die Landboukollege is in die weegskaal.

Dit volg nadat daar ‘n onderonsie na ‘n koshuis rugbywedstryd tussen Heimat-koshuis van die Puk en die Pampoenboere in die parkeerterrein van die Fanie du Toit-sportterrein ontstaan het.

Daar is oor en weer met pype, dun ysterpale en swepe geslaan. ‘n Meisie van die Puk moes doktersbehandeling kry en motors is beskadig.

Die destydse studentedekaan van die Puk het toe gesê dit kom al ‘n lang pad en dat daar ‘n al hoe groterwordende weerstand by Puk-studente is om teen die Pampoenboere deel te neem. Dit het glo kort-kort op konfrontasies uitgeloop.

Volgens die hoof van die landboukollege in daardie stadium was dit egter die Pukke wat glo tydens die wedstryd, wat hulle verloor het, gesê het hulle kry die Pampoenboere na die wedstryd op die parkeerterrein.

Nou ja, onderonsies tussen die Pukke en die Pampoenboere was nie vreemd in daardie jare nie. In dieselfde week het die Pampoenboere kraalmis in die duikweg by die Puk gaan gooi na ‘n berig in die studentekoerant dat die Pampoenboere hulle glo swak gedra het tydens ‘n intervarsity tussen die Puk en Kovsies.

Die vete het darem nie regtig tot die verbreking van alle sportbande gelei nie. Dis daarom jammer dat die Pampoenboere sover bekend nou nie eers meer ‘n rugbyspan het nie.

Nog ‘n berig en hooffoto op die voorblad het gegaan oor ‘n duiweboer wat duisende rand se skade gelei het toe van sy duur duiwe gesteel is.
Daar word ook berig oor die dood van mnr. Clemence Senekal, voorheen hoof van die Abraham Kriel Kinderhuis in Potchefstroom, slegs twee maande nadat hy afgetree het.

Daar word ook berig oor die dood van die “veiligste motorbestuurder in die land”. Me. Olive du Preez was bekend daarvoor dat sy vir 66 jaar lank bestuur het sonder om ooit ‘n ongeluk te maak. Sy is ook nooit beboet vir enige verkeersoortreding nie.

In ligter trant word berig dat Volkies se hoof in daardie tyd, mnr. Awie van Rensburg en ‘n onderwyser, mnr. Sakkie de la Rey, hul belofte by die skool moes nakom nadat die skool in minder as ‘n week R10 000 met ‘n rugbyraai vir die skool ingesamel het. Van Rensburg moes 50 opstote voor die hele skool doen en De la Rey moes die heeldag met ‘n doek loop.

Ook in dié uitgawe word berig oor die amptelike opening van die Ikageng polisiestasie. Dié polisiestasie is dus vandeesmaand 20 jaar oud. Die opening is waargeneem deur die destydse LUR vir veiligheid en sekuriteit, mnr. Satish Roopa, wat later burgemeester van Potchefstroom geword het.

In daardie week in Mei van 1995 was dit bibberkoud in Potchefstroom en het die temperatuur tot -3 grade gedaal.

Die Luiperds het voorverlede Saterdag teen die WP gespeel. Hul voorgangers, toe nog bekend as Wes-Transvaal, het ook in Mei 20 jaar gelede teen die WP gespeel. Dit was vir die WP ‘n verpligte vriendskaplike wedstryd in Potchefstroom. Die WP het 50 – 25 gewen. Dit sal darem lekker wees indien SA Rugby weer so ‘n reëling maak dat die groot unies verplig word om soms teen die kleiner unies te kom speel.

Dit sal kleiner unies darem geleentheid gee om bietjie hekgeld te vat. En wat ook gerus weer gedoen kan word is dat skole voorwedstryde speel wanneer die groot unies hier speel. Soos wat gebeur het toe Transvaal op 3 Junie 1995 hier teen Wes-Transvaal kom speel het.

Volkies en Gimmies, wat mekaar juis hierdie Saterdag weer pak, het toe in ‘n voorwedstryd teen mekaar gespeel.

Related Articles

Back to top button