NewsNews

Vox Populi…

Liewe Persoon Soms voel dit of die hele wêreld gelyk aan die praat is. Die kantoortelefoon skreeu met ‘n skril stem. My selfoon vibreer en blaf die een notification na die ander uit – so ampers parmantig asof mnr Samsung begin ongeduldig raak oor die min aandag. Voete, gevolg deur pratende lywe stroom deur die …

Liewe Persoon

Soms voel dit of die hele wêreld gelyk aan die praat is. Die kantoortelefoon skreeu met ‘n skril stem. My selfoon vibreer en blaf die een notification na die ander uit – so ampers parmantig asof mnr Samsung begin ongeduldig raak oor die min aandag. Voete, gevolg deur pratende lywe stroom deur die kantoordeur en op Twitter is @PetroPraat besig om haar toys te gooi oor straatligte wat in die dag brand.

Slaan jy die koerant oop het almal van die parlement tot die poskantoor iets op die hart. O, en moenie vir ‘n oomblik van SAL vergeet nie. Dan is daar big data wat skielik bloedrooi in die openbaar bloos en Jan Publiek wat vir sy wickets moet keer nou dat sy ID-nommer, bloedgroep, skoengrootte en politieke affiliation aan al wat ‘n kuberkraker bekend is.

Ons hou vergaderings oor vergarderings en as dinge nie tot ‘n punt kom nie, dan reël ons ‘n vergadering waar daar werkkomitees en fokusgroepe in die lewe geroep word. Want: praat moet daar gepraat word. En as  praat in die raadsaal nie wil werk nie? Dan praat ons in die strate, met plakkate en brandende buitebande. Ons praat op die maat van Umshini wami en Die Stem… en tydens Oppikoppi, Aardklop en Rocking the Daisies praat ons met alternatiewe musiek, liberale kuns en Heinekin. Baie Heinekin.

Op Vleisboek (ja, Facebook) word daar nou nie net meer met eksotiese vakansies, blinknuwe motors en voorbeeldige skoolkinders gespog nie, maar ook met Live Streaming . Laasgenoemde is soos ‘n outydse dagboek- of joernaalinskrywing met twee groot verskille: jy praat jou ding (enigiets van jou mening oor Blou Bul rugbyondersteuners, die ewige stryd om ‘n good fitting baaikostuum te vind en hoekom Joost vir Amor uit sy testament gelaat het) en jy gee nie om wie jou hoor nie (dagboeke is mos diep onder die matras weggesteek).  En dit bly nie net by praat nie. Nee. Om tussen die pratende massas uit te staan met jy ‘n gimmick hê: jy moet óf vloek soos ‘n matroos met skeurbuik of geklee in net jou onderbroek op die maat van Robbie Wessels se Mphe Di Hoenor in die hoofstraat dans.

Al dié gepratery laat ons ore suis… selfs bloei. Ons dink onsself suf aan antwoorde op die retoriek van elke dag. Ek wonder: het praat (en baie praat), nie maar net ‘n gewoonte geword nie? ‘n Manier om te oorleef. ‘n Selfverdedigingsmeganisme. ‘n Manier om elke oomblik van die dag te vul.

Is ons dan so bang vir stilte? Vir die moontlikheid dat ons vervang of vergeet sal word. Dat ons met ons eie gebreke sal moet deal en durf ek sê: vrede daarmee (probeer) maak.

Vox Populi.

Die stem van die mensdom is loud, opinionated en swetsend. 24/7/365…

being-too-social

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button