NewsNews

Demi-Leigh mis somer en braaivleisvure

Sy mis reeds Potchefstroom se Desember somerweer en die reuk van braaivleisvure. So sê Potchefstroom se skoonheid, Demi-Leigh Nel-Peters wat twee weke gelede die Mej. Heelal-kroon in Las Vegas verower het. Die Herald het met Demi-Leigh en haar pa, Bennie en stiefma, Elsabe Peters gesels oor haar eerste paar weke as Mej. Heelal. “Week een… …

Demi-Leigh Nel-Peters saam met haar pa, Bennie en stiefma Elsabe. Foto: Verskaf

Demi-Leigh Nel-Peters saam met haar pa, Bennie en stiefma Elsabe. Foto: Verskaf

Sy mis reeds Potchefstroom se Desember somerweer en die reuk van braaivleisvure.
So sê Potchefstroom se skoonheid, Demi-Leigh Nel-Peters wat twee weke gelede die Mej. Heelal-kroon in Las Vegas verower het.

Die Herald het met Demi-Leigh en haar pa, Bennie en stiefma, Elsabe Peters gesels oor haar eerste paar weke as Mej. Heelal.

“Week een was ’n warrelwind van onderhoude. Ek was op programme waarvan ek nog net kon droom, soos Live with Kelly and Ryan, E Entertainment, Good Morning America en die lys gaan aan.

“Ek het in my woonstel in New York ingetrek en ek het ook pas my eerste buitelandse besoek as Mej. Heelal in die Filippyne afgelê,” sê sy.

Hoewel sy nou vir ’n jaar in die groot en opwindende stad New York moet woon, gaan sy baie na haar land verlang.
“Ek mis definitief reeds die lekker Desember somerweer en braaivleisvure wat mens van laatmiddag af ruik, maar ek sien baie uit na die nuwe ervaring van ‘n koue Kersfees. Dit sal ‘n eerste vir my wees,” sê sy.

Sy sê sy hoop om Potchefstroom, waar haar pa en stiefma woon, binnekort te besoek, maar vir nou fokus sy op haar rol as Mej. Heelal en om met haar projek, Unbreakable, ’n verskil te maak.

“Ek wil graag die Mej. Heelal platform gebruik om vroue en tieners met my projek te bemagtig. Ek het dit in Junie van stapel gestuur. Ek verskaf kennis en vaardighede aan vroue en tieners om hulself teen ongewenste situasies te beskerm,” sê sy.

Unbreakable het gespruit uit ’n slegte ervaring wat Demi-Leigh vanjaar gehad het. Sy is kort na haar kroning as Mej. Suid-Afrika gekaap, maar het gelukkig vroeër die geleentheid gehad om te leer wat ’n vrou in so ’n situasie moet doen om haarself te beskerm. Met haar veldtog poog sy om ander vroue ook so te bemagtig.

“Ek dink die een ding wat Demi se veldtog laat uitstaan het bo die ander, is dat dit nie net iets is wat sy gedoen het omdat sy ’n projek moes loods nie, dis iets wat sy gedoen het omdat sy dit aan haar eie lyf gevoel het. Sy het ’n ander passie daarvoor as iemand wat maar net ’n veldtog geloods het om ’n projek te hê,” sê Elsabe, haar stiefma.

Demi-Leigh wil ook hierdie titel gebruik om ’n verskil in Suid-Afrika te maak. “Suid-Afrika sal altyd my eerste prioriteit wees en enigiets wat met Suid-Afrika te doen het, sal altyd na aan my hart wees. Ek hoop om aan te hou om terug te ploeg in my land, net soos wat ek van kleintyd af gedoen het,” sê sy.

Demi-Leigh eet kaaskoek in die strate van New York. Foto: Facebook

Demi-Leigh eet kaaskoek in die strate van New York. Foto: Facebook

“Ek glo in Demi se hart het dit nog nooit daaroor gegaan net om ’n kompetisie te wen nie, maar dat sy regtig ’n basis wil hê om iets te kan doen. Ek hoop dit gaan hierdie jaar vir haar so uitwerk dat sy die geleentheid kan gebruik om haar projek verder uit te brei en so ’n groter verskil te maak,” sê haar pa Bennie.

Demi-Leigh sê sy wil hierdie jaar haar beste gee in alles wat sy doen. “Ek wil seker maak dat ek elke geleentheid hierdie jaar benut en my 110% gee. My doel is om terug te kyk en te kan sê, ‘Demi, jy het dit jou alles gegee en jy was die beste wat jy moontlik kon wees’.”

Haar boodskap aan Potchefstroom is een van dankbaarheid. “Potchefstroom het ‘n belangrike rol gespeel in my ontwikkeling en ek sal altyd dankbaar wees vir al die geleenthede en ondersteuning wat Potchefstroom en Potchefstromers aan my gebied het.”

Die Mej Heelal het gekom na sy as Mej. Varsity Cup en Mej. Suid-Afrika gekroon is. Jare se harde werk het gesorg dat sy dit al die pad tot bo gemaak het. Nou wil sy haar land trots maak as die mooiste in die heelal.

Related Articles

Back to top button