NewsNews

Welkom in Parys

Iemand wat in die studierigting Onomastiek (dit is nou Naamkunde en Naamgewing) belang stel, sal Parys ’n uitnemende onderwerp vind. Parys se name is ‘’n  konglomeraat. Van alles en nog wat. Maar eers die naam Parys. Die Franse naam Paris is afgelei van die naam van die Keltiese stam Parisii, vroeë bewoners van die gebied. …

Iemand wat in die studierigting Onomastiek (dit is nou Naamkunde en Naamgewing) belang stel, sal Parys ’n uitnemende onderwerp vind. Parys se name is ‘’n  konglomeraat. Van alles en nog wat. Maar eers die naam Parys.
Die Franse naam Paris is afgelei van die naam van die Keltiese stam Parisii, vroeë bewoners van die gebied. Die naam van die Parisii is vermoedelik afgelei van die woord parisio met die betekenis “die werkende mense” of “die handwerkmense (craftsmen)”.
In Frans is die inwoners Parisiens. Die naam is amptelik gevestig in 360-3 n.C. tydens die regering van Juliaan die Apostaat (Ongelowige).
Parys is natuurlik ‘n verafrikaansing van die naam Paris, vermoedelik afkomstig van ene Schilbach, ‘n Duitse landmeter wat in die Frans-Pruisiese Oorlog aan die beleg van Parys deelgeneem het.
Die ooreenkoms tussen die stad op die walle van die Seine en die stadjie op die walle van die Vaal, het waarskynlik die deurslag gegee.
Die beroemdste baken, en mees betaalde besoekte plek ter wêreld, is natuurlik die Eiffel Toring, vernoem na Gustave Eiffel wie se maatskappy dit in 1887-89 gebou het en waarvan ’n  paar replikas in Parys te sien is.
Die Eiffel Toring is 324 meter hoog (so hoog soos ‘n 81 verdiepinggebou) en elke kant van die vierkantige basis is 125 meter. In 2015 het 6.91 miljoen mense die toring bestyg.
Die straatname in Parys het eintlik aparte navorsing nodig en die naamgewing is waarskynlik gegrond op historiese figure soos dorpstigters en ander nasionale figure soos Schilbachstraat, President Brandstraat; gewoon beskrywing soos Breëstraat, Grensstraat, Kortstraat, Waterstraat, en by gebrek aan name die oninteressante Eerste tot by Vierde Laan. Noorderstraat kan dalk ’n  interessante taalkundige raaisel wees. Het Noorder iets te doen met die rigting noord, of is dit vernoem na iemand met die van Noorder? ‘n Nuwe naambord sê Noordestraat.
Naamgewing in Parys kan hoofsaaklik in die volgende kategorieë verdeel word: Engels, Afrikaans, Frans, Hibriedes, Ander. Ek beperk my tot ‘n klompie winkels, eetplekke en gastehuise wat hoofsaaklik in Breëstraat voorkom en alles wat volg, is maar voorlopige opmerkings.
Baie ondernemings se name is Engels: Jimmy Jaggers, Copper Penny, Pine’s Antiques, River Bottom, Lavender Hills, Legends Pub and Grill, Oaktree Junction, Stonehenge in Africa, Pickled Pig Pub & Pie House.
Afrikaanse name sluit in: Fieterjasies, Mengelmoes, Die Koffiekan, Die Wakis, Die Blikhuis, Peuselhappies, Ditjies en Datjies, Oppie-hoek, Oppie Plaas, Ouma se huis, Die Kliphuis, Deelfontein Akkommodasie, Tu-vrede Gastehuis, Ou Goed – van toeka tot nou, Ouma se goed, Klein Parys.
Afrikaans of Engels: Parys Motors
Franse name: Le Petit Paris, La Vie en Rose, Le Grande Chateau Hotel, Mona Lisa, La Splendia, Paris Antiques, En style, Mon Ami Antiques.
Hibriedes (meer as een taal): Die Dot Shop, Vaal de Grace Golf Estate, Eden Art Tuinsentrum, Chanté Jewelry? (interessante geval: Chanté lyk na ‘n tipiese Franse voornaam saam met die Engelse Jewelry; in Frans natuurlik Chanté bijouterie), Mon Ami Antieke.
Nederlands: De Vette Mossel, Dé Modehuis
Afrikatale: Umfula, Khaya Ibhubesi, Sikatonga
Ander: Casa Cara (Spaans); Shiloh Shalom (Hebreeus)
Hoe dit ook sy. Of jy nou in watter taal se naam eet, drink of koop, almal stuur dieselfde boodskap.
Welkom in Parys!

Related Articles

Back to top button