NewsNews

Skoenmaker hou jou by jou lees

My pa was een van die mense wat sy hand aan enigiets in sy lewe sou waag, maar of alles wat hy aangepak het ʼn sukses was, is ʼn perd van ʼn ander kleur. Hy was  ʼn welbekende skoenmaker gewees en dit het hy met trots gedoen. Die skoene van kliënte het soms moeg en …

My pa was een van die mense wat sy hand aan enigiets in sy lewe sou waag, maar of alles wat hy aangepak het ʼn sukses was, is ʼn perd van ʼn ander kleur.
Hy was  ʼn welbekende skoenmaker gewees en dit het hy met trots gedoen. Die skoene van kliënte het soms moeg en verslete by sy klein winkeltjie in Heeverstraat naby Kortstraat, aangeland en elke paar was met sorg versool teen 7 sjielings en 6 pennies per paar. (In vandag se taal 75 sent per paar).
Werk was skaars want dit was gedurende die depressiejare van 1933, en hy het soms nagte omgewerk om met elke stekie die ondersool en hakke met presiesheid te vervang. Voordat dit die winkel verlaat het, het hy dit blink gepoets en dit het soos nuut gelyk.
Hy was baie presies met ons skoene en dié wat ons gehad het, was altyd blink gepoets en deur hom versorg. Sy bynaam was oom Blinkskoen Maritz en dit het hom oneindig trots gemaak.
Van sy ander talente was dat hy by die mandjiefabriek in Kruisstraat as leerling begin het, en van die mooiste mandjies, stoele en ander artikels is daar deur hom en die ander werkers vervaardig.
Daar is van die rosyntjiebos en die katwilger se latte gebruik gemaak, en nadat dit behandel is en dit deur verskeie prosesse gesit is, het die vlegwerk begin. Dit was harde werk en baie vermoeiend op die hande.
My pa vertel dat dit altyd die humorsin van sy medewerkers was wat hulle deur baie lang dae en soms nagte getrek het. Hy het in ʼn stadium aan die pad na Wolwehoek gewerk en ook gehelp om die treinspoor na Vredefort te bou.
In ’n ander stadium van sy lewe het hy by Venter Motors in Parys gewerk waar hy bekleedsel en dakseile vir motors vervang of ingesit het. My ma het gehelp met die masjienwerk van die seile en sitplekoortreksels, en my pa het vir haar in 1945 haar eie Singer naaimasjien gekoop wat hulle taak baie vergemaklik het.
Lood Venter, jarelange inwoner van Parys, onthou daardie jare goed, want hy was die eienaar van Venter en Seuns Motor Werke.
As daar nou een ding was wat my pa regtig nie kon doen nie, was dit om aan motorenjins te werk, maar niks kon hom oortuig dat hy dit liewer maar net moes aanvaar nie.
So verhuis ons toe gedurende die 1950’s na ‘n plot, Unitaspark, Vereeniging area, omdat werk meer volop was daar.
In daardie stadium ry my pa ʼn Olds Mobile en later nog ander motors wat mekaar opvolg soos ʼn Plymouth, ʼn later Model Ford, ʼn Hudson, ʼn Vauxhall en nog vele meer wat oor jare heen ʼn draai in ons gesin kom maak het.
Met elke “nuwe” tweedehandse motor wat arriveer het, is daar gou-gou fout gevind en dan moet die enjin kwansuis “oorgedoen” word.
Die taak word elke keer vir ʼn naweek beplan en dit begin gewoonlik op ʼn Vrydagaand wanneer die motor onder die populierboom ingetrek word en ʼn tou oor die sterkste, dikste tak van die populierboom gegooi word. Die enjin word dan goed vasgemaak, en die losdraai van die boute en moere begin.
Teen 11 uur se kant, pikdonker met slegs ʼn flits of paraffienlamp as lig, word die enjin bokant die motor uitgelig met ʼn “Block en Tackle”. Genoeg gedoen vir die aand en dan gaan hy slaap.
Vroeg Saterdagoggend begin hy die enjin te “strip”. Dit is nou ʼn perd van ʼn ander kleur en ek bedoel nie “perdekrag” nie. Gereedskap, boute, moere onderdele, “plugdrade” en vele ander parte lê oral rond, maar hy is ʼn man op ’n missie en hy druk deur, want die motor moet voor Maandagoggend loop.
Ons kinders bly weg, want so nou en dan glip woorde uit wat my ma glad nie goedkeur nie. Sy sorg vir koffie, tee en ʼn eetdingetjie want my pa moet sy krag behou vir hierdie poging.
Teen laat Saterdagmiddag lyk dit asof hy wen en die enjin word weer aanmekaar gesit. Wat fout was, verstel en vervang was, weet ek glad nie, maar met die enjin weer in sy posisie lyk my Pa baie tevrede met homself en sy handewerk.
Hy was glad nie bekommerd oor die paar “spaar” onderdele wat opduik nie en hy gooi dit eenkant vir indien hy dit dalkies kan nodig kry.
Dan is dit tyd vir die groot oomblik om te kyk of die “plugs” gaan vonk en die enjin gaan vat. Ek kan sien my pa is effens gespanne toe hy die sleutel draai en die aansitter druk, want niks gebeur nie. Nie eens die kenmerkende “hoi, hoi, hoi” van die enjin wat probeer om te vat, is hoorbaar nie.
Ons hou asem op, maar niks gebeur nie. Weer en weer dieselfde prosedure maar niks!!! Nou wil ek eintlik net sê – dit was feitlik elke keer die geval met die enjin-storie, maar my pa gee nie bes nie.
Hy onthou, soos altyd, van sy dierbare vriend, Jimmy Bingo, wat een van daardie groot Harley-Davidsons het, en my broer word gestuur om hom te gaan roep.
Met die aankoms van Jimmy met sy Harley staan die motor gereed en hy en my pa span die motorfiets vooraan die kar met ʼn tou en daar gaan hulle.
Of sal ek sê hulle probeer gaan, want nou word ons kinders geroep om hand te gee om die motor te stoot.
Uiteindelik trek Jimmy met sy Harley, en die motor op sleep, met ’n hengse stofwolk weg en hy sleep die motor met my pa in, straat op en straat af. So met die vierde keer gee die motor bes, vat vonk en begin loop.
Net tot ’n volgende keer, want my pa het nooit opgegee nie. Daarom die spreekwoord – Skoenmaker hou jou by jou lees!

Related Articles

Back to top button