NewsNews

Dokter getuig oor beseerde se dood by hospitaal

Dr. Sifiso Nxumalo het vanoggend (Dinsdag 21 November) in die Hoë Hof in Parys voor regter Corné van Zyl verder getuig oor die beserings van Samuel Tjixa wat hy die aand van 6 Januarie 2016 ondersoek het toe hy aan diens was by die Parys Distrik-hospitaal se Ongevalle afdeling. Nxumalo is as getuie geroep deur …

Dr. Sifiso Nxumalo het vanoggend (Dinsdag 21 November) in die Hoë Hof in Parys voor regter Corné van Zyl verder getuig oor die beserings van Samuel Tjixa wat hy die aand van 6 Januarie 2016 ondersoek het toe hy aan diens was by die Parys Distrik-hospitaal se Ongevalle afdeling.

Nxumalo is as getuie geroep deur die staat in die saak teen 6 mans van Parys wat tereg staan op twee klagte van moord na die dood van Simon Jubeda en Samuel Tjixa. Die staat voer aan dat Boeta van der Westhuizen, sy seun Loedie van der Westhuizen en skoonseun Miela Janse van Vuuren, asook kapt. Henk Prinsloo en Anton Loggenberg en sy seun, Cor Loggenberg, na bewering die oorledenes op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik, sodanig aangerand het dat hulle kort ná die voorval aan hul beserings in die Parys en Pelenomi hospitale onderskeidelik beswyk het.

Nxumalo het gesê dat hy die betrokke aand om 22:00 na die ongevalle afdeling ontbied is, waar hy die twee oorledenes gekry het. Jubeda het mediese hulp baie dringend nodig gehad en is nadat hy gestabiliseer is oorgeplaas na die Pelenomi-hospitaal in Bloemfontein.By Tjixa het Nxumalo kneusings aan sy bors gesien, maar hy kon self asem haal en daar was nie ooglopende bloeding sigbaar nie. Daar is nie op daardie stadium x-strale van Tjixa geneem nie omdat dit volgens Nxumalo se getuienis buite kantoorure was.

Hy het volgens sy getuienis vermoed dat daar long- of hartbeserings kon wees. Tjixa is in ‘n saal opgeneem en volgens Nxumalo se getuienis sou daar die volgende oggend x-strale van sy bors en kop geneem word. Indien nodig sou hy ook na Pelenomi oorgeplaas word. Nxumalo het getuig hy is om 04:00 deur ‘n suster gebel wat gevra het hy moet die pasiënt in die saal kom sien, maar hy was besig in die ongevalle afdeling. Hy het om 06:00 by die saal gekom en is Tjixa in die saal dood verklaar.

Op ‘n vraag van staatsaanklaer adv. Jabulani Mlotshwa oor of  die wond aan Jubeda se kop deur die agterkant van ‘n vuurwapen veroorsaak kon gewees het, het Nxumalo ja geantwoord. Hy het ook gesê dat al sou hy om 04:00 by die pasiënt kon wees, daar nie veel meer sou wees wat hy sou kon doen nie, behalwe om die pasiënt na Pelenomi-hospitaal oor te plaas.

Die verhoor is tot Vrydag 24 November op die hofrol.

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button