HealthLifestyleNewsNews

Gespe jou kleinding vas of betaal

VEREENIGING. – Motoriste is van einde April af wetlik verplig om hul babas en kleuters onder die ouderdom van drie jaar, met toepaslike veiligheidstoerusting vas te maak as hulle in voertuie ry. Statistiek toon dat padongelukke, insluitend ongelukke waarby voetgangers betrokke is, die hoofoorsaak is van sterftes by kinders jonger as vyf jaar. Luidens ’n …

VEREENIGING. – Motoriste is van einde April af wetlik verplig om hul babas en kleuters onder die ouderdom van drie jaar, met toepaslike veiligheidstoerusting vas te maak as hulle in voertuie ry.

Statistiek toon dat padongelukke, insluitend ongelukke waarby voetgangers betrokke is, die hoofoorsaak is van sterftes by kinders jonger as vyf jaar.
Luidens ’n berig op die webblad ​SouthAfrica.info, het Suid-Afrika van die wêreld se hoogste gevalle van padsterftes, veral onder kinders. Gewysigde regulasies ingevolge die Nasionale Padverkeerswet is verlede jaar op 31 Oktober in die Staatskoerant afgekondig.

Tiyani Rikhotso, woordvoerder van die departement van vervoer, het toe gesê die nuwe regulasies sal eers op 30 April vanjaar in werking tree om motoriste genoeg tyd te gee om die nodige veiligheidstoerusting aan te koop. Die wysiging behels dat ouers wat met hul babas en kleuters reis, wetlik verplig word om hulle in ‘n motorstoeltjie vas te gespe.

Ingevolge die nuwe wet, waarvan die voorneme op 31 Oktober 2014 bekendgemaak is, sal alle kinders onder die ouderdom van drie jaar in ’n motorstoeltjie vasgegespe moet wees. Arrive Alive se navorsingsdata en statistiek oor die belangrikheid van sitplekgordels en motorstoeltjies toon sitplekgordels verminder die waarskynlikheid van sterfte met 40 tot 50 persent vir bestuurders en passasiers op die voorsitplek en sowat 25 persent vir passasiers op die agtersitplek.

Om uit die motor te val is een van die ernstigste goed wat in ’n ongeluk met ’n mens kan gebeur. Driekwart van alle insittendes wat in ’n ongeluk uit ’n voertuig val, sterf. Die navorsing toon verder sitplekgordels keer dat iemand uit ’n motor val, want altesaam 44 persent van nie-vasgemaakte passasiers in voertuie sterf wanneer hulle gedeeltelik of heeltemal uit die motor val vergeleke met net 5 persent van vasgemaakte insittendes.

Belangriker nog, die ondersoek toon kinderveilige motorstoeltjies wat reg ingesit en gebruik word vir kinders tot vier jaar, kan die risiko van sterftes van babas met 70 persent verminder en dié van kinders van een tot vier jaar met 54 persent. Gewysigde regulasies ingevolge die Nasionale Padverkeerswet is verlede jaar op 31 Oktober in die Staatskoerant afgekondig. Hoewel volwassenes en ouer kinders reeds voor die nuwe regulasies verplig was om sitplekgordels te dra, was dit nie vir kinders van jonger as drie jaar verpligtend nie.

Geskikte veiligheidsitplekke en motorstoeltjies vir babas was ook nie nodig nie en daar was geen reëls vir kinders van ouer as drie wat op die voorste sitplek sit nie. Luidens die Mediese Navorsingsraad (MNR) is padongelukke die grootste oorsaak van sterftes vir kinders jonger as vyf in Suid-Afrika.
Die meeste van dié kinders was nie vasgemaak nie. Meer as 17 000 mense sterf jaarliks op Suid-Afrikaanse paaie. Vir elke padsterfte word vier mense ernstig beseer. Die MNR het bevind dat 23% van alle sterftes in kinders tussen vyf en 14 die gevolg van beserings is – veral voetganger- en passasiersbeserings, sowel as verdrinking, brandwonde en vuurwapenverwante beserings.

Padongeluk-verwante beserings is die algemeenste soort beserings onder skoolgaande kinders in Gauteng. 1 513 kinders is tussen 2008 en 2011 in padongelukke in Gauteng dood. Padsterftes maak 50,9% van alle sterftes onder skoolgaande kinders in die provinsie uit. Navorsing deur die Amerikaanse sentrum vir siektebeheer (CDC) het bevind dat die risiko van sterfte in ’n botsings met 71% daal as babas behoorlik in motorstoeltjies vasgemaak is. Motorstoeltjies verminder ook die risiko van ernstige beserings vir kinders tussen vier en agt jaar met 45%.

Bron: Netwerk24

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button