’n Muur van onthou by sentrum

Mense bou so graag mure – mure om te sê dis myne, om privaat te wees, om ongewenste faktore en bedelhande uit te hou. Selfs mure in ons – waarmee ons skeiding maak. Maar dié muur is anders…rond. “Ek is seker dit is God se idee van ’n  muur. Sy mure is rond en omvou …

Mense bou so graag mure – mure om te sê dis myne, om privaat te wees, om ongewenste faktore en bedelhande uit te hou. Selfs mure in ons – waarmee ons skeiding maak. Maar dié muur is anders…rond.
“Ek is seker dit is God se idee van ’n  muur. Sy mure is rond en omvou ons met sy beskerming en liefde.”
Met dié treffende woorde van sangeres Elizabeth Fourie is die Garden of Life gedenkmuur by Epilepsie Suid-Afrika se Vrystaat/Noordwes-sentrum in Parys nou amptelik geopen. Die muur en tuin van herinnering was die mooi inisiatief van Lucy Anne Otto, ’n  maatskaplike werk student wat haar internskap by die sentrum gedoen het.
Sy wou sien dat daar ’n  tuin en gedenkmuur opgerig word waar inwoners wat so lank deel was van die sentrum maar geen familie het nie, of vir wie dit hul wens sou wees, onthou sal  word met die Garden of Life.
Hulle na wie daar vir soveel jare na omgesien is deur die personeel, soos wat ’n ouer na sy kinders kyk, soms ook tot aan die einde van hul lewe. Die verskil – vir baie van hulle is daar nie familie om ook aan die einde na hul oorskot om te sien nie.
Só is dit dikwels die laaste taak wat personeel by dié sentrum moet verrig ná ’n  verassing. Maar wat sou word van die as? As daar na elkeen van hierdie inwoners in hul lewe met soveel deernis omgesien is, moet hulle ook met die nodige waardigheid onthou word wanneer hulle nie meer daar is nie.
Toe die plaatjies na baie jare opgesit is op die gedenkmuur waarin die as geplaas is, kon ek elkeen onthou, het Gary Westwood, direkteur van die sentrum gesê, terwyl hy ’n  staaltjie van elkeen  vertel het –  Sophie Steyn, Bennie Taljaard, Desmond Pieterse, Johan Richter en Andries Carels. Hulle wat nou nie meer daar is nie.
Vir die ander inwoners, is dié muur en tuin nou die seker wete dat die mense van Epilepsie Suid-Afrika na hulle sal kyk, selfs wanneer hulle die dag nie meer daar is nie.
Naas die Garden of Life-projek het nog een van die studente, Dané Fourie, die sentrumtuin verfraai met pragtige vertikale tuine teen die mure by die inwoners se woonstelle, en 9 bankies is in die tuin geplaas waar inwoners kan sit. Die bankies is  versier met kleurvolle gebreide blokke wat die inwoners en selfs vrywilligers maak.
Dankie aan Mirabel Gastehuis, Mistique Waters Gastehuis, Willem Coetzer, Vickie en Annelene van der Westhuizen, Coetzee’s Prokureurs, AB’s Pub and Grill en Louis en Marisa van der Westhuizen vir die borg van die bankies, asook Pula Build-it en ander borge wat hul harte oopgemaak het vir die onderskeie projekte wat die studente hier gedoen het.

Die amptelike opening van die gedenkmuur en tuin van herinnering by Epilepsie Suid-Afrika se Vrystaat/Noordwes-sentrum in Parys.
Die pragtige vertikale tuine by die woonstelle was Dané Fourie se handewerk.
Die studente is van links Dominique Olckers, Lucy-Anne Otto, Rikki van der Westhuizen en Garry Westwood (sentrum-personeel) en Dané Fourie.
Dané Fourie op een van die bankies wat kleurvol versier is met gebreide blokke.

 

Related Articles

Back to top button