NewsNews

Spogprogram op die spyskaart vir Kerskonsert

“Een van ons mooiste programme nóg!” Dit is die opinie van Erna Rademan en Marli Kruger, koorleiers van die Deo Gloriakoor wat op Saterdag, 25 November in Vredefort se NG Kerk aangebied word. Die tweejaarlikse konsert wat allerweë as die hoogtepunt op die klassieke musiekkalender van die Noord-Vrystaat beskou word, bied benewens die koor self, …

“Een van ons mooiste programme nóg!” Dit is die opinie van Erna Rademan en Marli Kruger, koorleiers van die Deo Gloriakoor wat op Saterdag, 25 November in Vredefort se NG Kerk aangebied word.
Die tweejaarlikse konsert wat allerweë as die hoogtepunt op die klassieke musiekkalender van die Noord-Vrystaat beskou word, bied benewens die koor self, ook ‘n keur van ander talentvolle klassieke kunstenaars.
Die Botshabela Senior Strings orkes bestaan uit ‘n groep professionele musici wat almal die produk is van die Mangaung Strings Program wat al die afgelope twintig jaar in die Vrystaat werksaam is.
Peter Guy, ‘n Amerikaanse Suid-Afrikaner, het jare gelede sy droom om kinders uit alle segmente van die Vrystaatse bevolking aan strykinstrumente bekend te stel, begin verwesenlik met hierdie uitreikprogram. Vandag is ongeveer 700 Vrystaatse kinders kranige spelers van een of ander strykinstrument. Die lede van die senior orkes, was almal eens studente van die program.
Nou is hulle die onderwysers, wat die volgende geslag(te) ook leer speel. Hulle toer jaarliks in Europa en tree gereeld saam met oorsese groepe op.
Die groep het ’n  besondere band met Vredefort, as gevolg van hul betrokkenheid by skole in en om die dorp.
Sopraan Marguerite van Wyk en tenoor Chris Mostert, het beide reeds by vorige konserte as soliste saam met die koor opgetree. Marguerite behaal haar B.Mus(Ed) en B.Mus(Hon) graad met sang as hoofvak onder leiding van Hanna van Niekerk by Kovsies. Hoogtepunte gedurende haar studie was onder andere verskeie optredes met SUKOVS produksies, die Jeugkonsertfees saam die SUKOVS-orkes, die Lettere en Wysbegeerte prys asook die Vrystaatse Musiekvereniging prys.
Marguerite ontvang meestersklasse by onder meer Werner Nel, Gerda Hartman, Mimi Coertse en Martin Koningsberger. Sy is tans besig met haar meestersgraad in musiek.
Orrelis Werner Ferreira is ’n  uiters talentvolle jong musikant wat die vermoë het om met musiek te toor.
Verder word die gehoor vermaak deur die instrumentale spel van Carli D’Alibout (viool), wat tans in Noorweë studeer, Anthony Duffin (trompet), Anci Duffin (fluit), Karel Steyn (fluit) en Mossie Mostert (saksofoon).
Die sangsensasie, Olga Leonard en Babette Viljoen, wat gehore reeds by ‘n aantal kunsfeeste aan hul voete gehad het, tree ook op. Die gehoor kan ook uitsien na samesang wat, soos gewoonlik, vir baie mense ‘n uitsonderlike ervaring is.
Kaartjies vir die konsert raak min en is in Parys beskikbaar by La Vie en Rose en National Roadhouse, asook by alle koorlede. In Vredefort kan kaartjies by Chris van Niekerk skool gekoop word en in Kroonstad by Rellings. Vir verdere inligting, skakel Erna Rademan by 082 565 1085.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button