NewsNews

Vrystaat webblad-debakel: Wie lieg nou en wat nou?

Teenstrydige uitsprake, veranderende standpunte en ontkennings deur die Vrystaatse departemente van die premier en samewerkende regering en tradisionele sake (COGTA) wys dat daar ʼn slang in die gras is met die omstrede ooreenkoms tussen die provinsiale regering en die Letlaka-mediagroep wat die belastingbetaler R95 miljoen gekos het vir webwerwe, sê Wouter Wessels, VF Plus-lid in …

Teenstrydige uitsprake, veranderende standpunte en ontkennings deur die Vrystaatse departemente van die premier en samewerkende regering en tradisionele sake (COGTA) wys dat daar ʼn slang in die gras is met die omstrede ooreenkoms tussen die provinsiale regering en die Letlaka-mediagroep wat die belastingbetaler R95 miljoen gekos het vir webwerwe, sê Wouter Wessels, VF Plus-lid in die Vrystaatse Wetgewer.

 

Die kontrak het aanvanklik behels dat belastingbetalers R120 miljoen moes opdok vir webblaaie vir Vrystaatse provinsiale departemente en munisipaliteite.  Die kontrak is deur die departement van die premier namens provinsiale departemente en COGTA (ten opsigte van die munisipaliteite se webwerwe) aangegaan.

 

Dit is later gekanselleer en daar is onlangs op ʼn skikkingsbedrag van sowat R20 miljoen ooreengekom. Die totale bedrag wat op hierdie projek bestee is, beloop dus R95 miljoen.

 

Volgens Wessels het die stand van hierdie webtuistes nog nooit R95 miljoen weerspieël nie.

 

“COGTA en die departement van die premier het Dinsdag afsonderlik voor die wetgewer se openbare rekeningekomitee verskyn en is gepeper met vrae oor die omstrede kontrak en die skikkingsbedrag.  Daar is onder meer verwys na ʼn verslag van nasionale tesourie waarin gewaarsku word dat die Letlaka-kontrak, wat aanvanklik R120 miljoen beloop het, waarskynlik ʼn vrugtelose en verkwiste uitgawe is.

 

“Die Vrystaatse premier, Ace Magashule, ontken reeds jare lank dat daar so ʼn verslag bestaan, terwyl COGTA self na die verslag verwys.

 

“Die VF Plus is van mening dat die Openbare Beskermer (OB) se verslag in hierdie verband so gou as moontlik openbaar gemaak moet word, aangesien die ondersoek nou reeds etlike jare neem.

 

“Dit is belangrik dat die ware feite ten opsigte van hierdie astronomiese besteding openbaar gemaak moet word en dat daar gevolge met wees waar ongerymdhede plaasgevind het.

 

“Die verskillende sfere van regering is veronderstel om in staat te wees om elk self besluite oor diensverskaffers te kan neem, soos om self diensverskaffers aan te stel, sonder dat die provinsiale regering inmeng in die prosesse.

 

“Die proses en die uiteindelike ooreenkoms wat tussen die Vrystaatse provinsiale regering en in besonder die departement van die premier en Letlaka aangegaan is, laat vele vrae en min antwoorde.  Dit is deurspek met ongerymdhede en die blote feit dat Letlaka nie eens ʼn behoorlike produk vir die geld wat aan hulle betaal is kon lewer nie, is ʼn reuse rooi lig,” sê Wessels.

Related Articles

Back to top button