NewsNews

Onderwyswet: lewer nou jou kommentaar

Die Departement van Basiese Onderwys nooi belangstellendes uit om hul kommentaar oor die voorgestelde wysigings te gee teen Vrydag 10 November. Op 13 Oktober is die nuwe Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys in die Staatskoerant gepubliseer. Hierdie Wysigingswetsontwerp stel 46 veranderinge in die huidige wetgewing oor Basiese Onderwys voor. Verskeie onderwyskenners en belanghebbendes het reeds hul …

Op 13 Oktober is die nuwe Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys in die Staatskoerant gepubliseer. Hierdie Wysigingswetsontwerp stel 46 veranderinge in die huidige wetgewing oor Basiese Onderwys voor. Verskeie onderwyskenners en belanghebbendes het reeds hul kommer oor dié veranderinge, wat ʼn groot impak op publieke skole sowel as tuisonderrig gaan inhou, uitgespreek.

In een van die wysigings word voorgestel dat die departementshoof publieke skole moet aanwys om meer as een onderrigtaal aan te neem na die inagneming van verskeie voorgeskrewe faktore soos die belange van die breër gemeenskap. Nog ʼn klousule stel voor dat die gedragskode van  ʼn publieke skool voorsiening moet maak vir diversiteit wanneer dit kom by leerders se geloof en kultuur.

Nog wysigings stel voor dat slegs  ʼn ouer van die skool wat nie ʼn werknemer by die skool is nie, mag dien as die voorsitter van die skool se finansiële komitee en dat onderwysers van  ʼn publieke skool hul eie finansiële sake, sowel as dié van hul eggenoot of persoon wat saam met hulle woon (asof hulle getroud is), aan die hoof van die departement moet verskaf om so korrupsie te voorkom.

Verder word sommige wysigings voorgestel oor die regte van die skool se beheerliggaam, soos byvoorbeeld dat die beheerliggaam nou nie meer ten volle in beheer sal wees van wie aangestel word by die skool nie.

Nog ʼn voorgestelde wysiging is dat skoolpersoneel leerders se skooltasse en sakke mag deursoek, nie net in groepe nie, maar individueel ook, om so alkohol- en middelmisbruik in skole te beperk.

Ouers wat tuisonderrig aan hulle kinders gee word ook deur die voorgestelde wysigings geraak. Klousule 52 stel voor dat kinders wat tuisonderrig van graad 10 tot 12 ontvang, gebruik moet maak van ʼn private of onafhanklike diensverskaffer om te registreer vir die Nasionale Senior Sertifikaat met ʼn private of onafhanklike assesseringsliggaam.

Leerders wat tuisonderrig tot graad 12 ontvang sal ook deur hierdie diensverskaffers die finale matriekeksamen moet skryf wat opgestel word deur die Departement van Basiese Onderwys of die Onafhanklike Eksamenraad. Die eksamen moet ook gesertifiseer word deur Umalusi.

Verder is daar voorgestel dat ouers wat hul kinders verhoed om skool by te woon, se tronkstraf moet verhoog na 6 jaar, waar dit tans net 6 maande is.

Prof. Elda de Waal. FOTO: Verskaf

Prof. Elda de Waal. FOTO: Verskaf

Prof. Elda de Waal, onderwysregskenner by die NWU se Potchefstroomkampus sê dat sy bekommerd is oor van die wysigings en veral omdat ouers nie geraadpleeg is met die voorgestelde wysiging van hierdie wette nie.

“My bekommernisse lê by die beeld wat geskep word dat die insette van Suid-Afrikaanse ouers totaal geminag word in die gedeeltes van die wet wat oorspronklik deur hulle voorgestel is met die skryf van die wet tydens die vroeë en middel 1990’s kort voor ons eerste demokratiese verkiesing,” sê sy.

Sy sê verder dat die voorgestelde wysigings die indruk skep dat skole wat wel tans effektief funksioneer, oorbelaai gaan word en gestraf gaan word omdat dit goed gaan by die skool.

“Wat van die Departement van Basiese Onderwys se plig om die skole waar dit nie goed gaan nie, en waar skoolbeheerliggame byvoorbeeld nie op die oomblik effektief as liggaam optree nie, in te gryp met intervensies en selfs opleiding aan te bied?” vra sy.

“Dit maak my bang om te dink daaraan dat swak-presterende skole se deure dalk eenvoudig gesluit gaan word sodat die minderheid skole wat tans die hele land se akademiese vlag dra, net voller gaan word en onder meer druk gaan kom wat die taal van onderrig en aanstelling van goed-opgeleide onderwysers betref.”

Die Departement van Basiese Onderwys nooi belangstellendes uit om hul kommentaar oor die voorgestelde wysigings te gee deur ʼn brief tot en met Vrydag 10 November 2017 te stuur na die Direkteur-Generaal, Privaatsak X895, Pretoria, 0001 vir aandag adv. T.D. Rudman, of stuur ʼn e-pos na rudman.d@dbe.gov.za of faks na 012 323 9430.

Kyk hier na die volledige dokument in die Staatskoerant.

Related Articles

Back to top button