NewsNews

“Moenie worry, ou Bul, ons het mooi, mooi met hulle gepraat”

Skokkende stemboodskappe oor wat die dag van 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik gebeur het, toe 2 mans na bewering so erg aangerand is dat hulle kort daarna aan hul beserings in die Parys en Pelenomi hospitale onderskeidelik beswyk het, is Woensdag hier in die Hoë Hof in Parys gehoor. Een …

Skokkende stemboodskappe oor wat die dag van 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik gebeur het, toe 2 mans na bewering so erg aangerand is dat hulle kort daarna aan hul beserings in die Parys en Pelenomi hospitale onderskeidelik beswyk het, is Woensdag hier in die Hoë Hof in Parys gehoor.
Een van die boodskappe was: “Ons het gou twee 2 k*****s gekry, hulle het Loedie se oupa aangeval toe p*** ons hulle half dood. Ek net gou ander hemp aantrek as hulle my vang met die flippen bloed slaap ek vanaand in die tjoekie.”
Dié stem in dié stemboodskap  is deur Wicus van der Westhuizen,’n 204 getuie vir die staat wat tans onder kruisondervraging is, geïdentifiseer as die stem van Muller van der Westhuizen, nog ’n 204 staatsgetuie.
Wicus het Dinsdag vir die staat getuig in die saak teen 6 mans van Parys wat tereg staan op 2 klagte van moord na die dood van Simon Jubeda en Samuel Tjixa wat na bewering verdink is van ’n  plaasaanval op een van die beskuldigdes, Boeta van der Westhuizen se pa, Loedie.
Boeta, sy seun Loedie van der Westhuizen Jr, skoonseun Miela Janse van Vuuren, kapt Henk Prinsloo, Anton Loggenberg en sy seun Cor Loggenberg is vir die moorde aangekla.
Regter Corné van Zyl het dit vooraf duidelik gestel dat sy die speel van die boodskappe in die oorspronklike vorm daarvan toelaat in belang van die gereg omdat die inhoud hiervan ’n rol kan speel in die saak, en nie omdat die taal aanvaarbaar is nie.
Die stemboodskap en nog ’n  boodskap van Muller van der Westhuizen waarin hy sê wat hy aan een van die mans gedoen het en dat hulle vir die polisie gesê het dat dit die honde was wat die man so beseer het, is deur die verdediging se adv, Nico Dreyer aan die hof voorgehou, nadat hy dit aan Wicus van der Westhuizen gestel het dat sy weergawe ’n baie afgewaterde weergawe is van Muller se aandeel in die voorval. Dreyer het vroeër ook dit aan Wicus van der Westhuizen gestel dat hy nie die waarheid aan die hof vertel nie.
Dreyer het dit voorts aan Wicus van der Westhuizen gestel dat hy na aanleiding van sy getuienis Dinsdag voor die hof dit vreemd vind dat hy in detail kan onthou wat elke beskuldigde gedoen het met die uitsondering van kapt Henk Prinsloo oor wie hy geen getuienis kon lewer nie, terwyl hy die res van die fynere detail tydens en na die voorval nie kan onthou nie.
Dreyer het opgemerk dat met al die 204 verklarings wat soortgelyk is, sy gevolgtrekking is dat of almal praat die waarheid, of “dis iets wat julle saam uitgedink het.”
Wicus van der Westhuizen het Dinsdag getuig dat hy na die voorval ’n  whatsapp boodskap op ’n  veiligheidsgroep geplaas het waarin hy na die oorledenes een keer as k*****s verwys het. Hiervoor het hy die hof en families voor verskoning gevra.
Die hof het Woensdag ook na 5 stemboodskappe van Wicus van der Westhuizen geluister waarin die woord minstens twee keer voorkom. In een  boodskap sê Wicus, “Moenie worry ou Bul ons het mooi, mooi met hulle gepraat.” Wicus van der Westhuizen het na die speel van die stemboodskappe gesê dat hy nie kan onthou wat hy sou bedoel het met “mooi gepraat.”
Die verhoor is net voor die middaguur vandag, Woensdag 8 November, verdaag nadat beide die staat en die verdediging in regter Van Zyl se kamers ooreengekom het dat hulle eers deur die 1 000 stemboodskappe sal gaan om te besluit watter boodskappe nodig is om in die hof te speel ten einde hoftyd te spaar. Regter van Zyl het die versoek toegestaan en daarna die hof verdaag tot Donderdagoggend 9 November om 09:30.

Related Articles

Back to top button