BlogsOpinions

Annette, die Singer-handmasjien en die geel Dromedaris

  November 2, 2016 Liewe Persoon Slaat ek vanoggend in ‘n kouesweet uit: ek staan voor my kas en skielik het ek niks om aan te trek nie. Niks! Dit is letterlik hier te lank (lees: my voete is vandag te seer vir high heels) en daar te kort (lees:  vanoggend omgord al wat ‘n …

 

Liewe Persoon

Slaat ek vanoggend in ‘n kouesweet uit: ek staan voor my kas en skielik het ek niks om aan te trek nie. Niks!

Dit is letterlik hier te lank (lees: my voete is vandag te seer vir high heels) en daar te kort (lees:  vanoggend omgord al wat ‘n kledingstuk is my, en laat my baie uitasem soos ‘n swak gestopte varkworsie lyk). Ek probeer die soveelste outfit en skrik my amper katswink toe ek myself in die spieël sien want, op daardie oomblik was ek nie seker of ek besig was om in die rokkie te kom of daaruit nie! En net gister het ek met die beste bedoeling ooit my klere netjies uitgepak vir vanoggend. Iets het egter in die nag lelik skeefgeloop. Dit wat nie gekreukel is nie, voel of dit aan die krimp is. As al die knope aan is, dan is daar weer ‘n soom wat aan die uitrafel is. En helaas, daardie nuwe somersrok wat so lekker dra… is nog in die wasmandjie.

Moeg en papnat gesweet sak ek op die kooi neer. Wat nou?

En skielik is ek weer in Standerd 7 in juffrou Potgieter se naaldwerkklas. Ons jaarprojek is ‘n short pakkie (kortbroek met ‘n rek en ‘n bypassende bloesie) en almal is besig om hul materiaal uit te pak. Dit is nogal ‘n aanskoulike affêre, soos my Ouma Sielie sou sê: katoen, denim, butcher linen… Ek haal my sak met my  lap uit, en my moed sak sommer dadelik in my skoene. Sien, ons het reeds in Standerd 5 en toe weer in Standerd 6 kennis gemaak met naaldwerk en beide kere was ek so ‘n polonieskil se dikte weg van ‘n rooisirkel op my rapport. Naaldwerk was en  is steeds nie vir my nie.

Met die aanskou van my materiaal het daar ‘n doodse stilte oor die klas neergedaal. Ek kan tot vandag nie besluit of juffrou Potgieter uit simpatie of skok  – na sy my materiaal gesien het, in haar stoel neergeval het nie. My Ma het gereken dat dit geldmors sou wees om duur materiaal te koop vir iets wat ek anyway  nie sou klaarmaak nie, wat nog te sê in die openbaar sou dra. My lap was goudgeel soos die binnekant van ‘n sunny-side-up Wimpy-eier met rooi en blou skepe daarop. En met skepe bedoel ek iets soos Jan van Riebeeck se Dromedaris. Die lap was, in alle eerlikheid, ‘n winskopie teen R2.50 ‘n meter…

Soos die jaar gevorder het, so het my oë al hoe skeler getrek – veral in die naaldwerkklas. Daardie geel was brutal so met die kyk saam en synde ek bykans daagliks ‘n goeie 15 minute aan lostrek spandeer het, het die lap op menige plek soos sifdraad begin lyk… Juffrou Potgieter was ook al raadop met my.

Ek het net eenkeer op een van die nuwe Empisal-masjiene gewerk. Die res van die tyd moes ek met so ‘n Singer handmodel tevrede wees. Dié  antieke masjien het met so ‘n slingertjie gewerk en om ‘n soom ordentelik te stik het my maklik drie periodes geneem. En toe op ‘n dag is ek klaar. Die pante was almal vasgewerk en my some was gestik… hoe goed dit gestik was sou ons eers die aand voor die prysuitdeling uitvind.

Jy sien, Juffrou Potgieter het dit goed gedink om ons skeppings tydens ‘n modeparade ten toon te stel. Teen dié tyd was ek al heel gemaklik met die geel sifdraad met die Dromedaris synde ek soveel tyd saam met dit spandeer het. So gaan elkeen in die stoorkamer in, trek skoolrok uit, Juffrou Potgieter hang die rok op en jy stap uit die stoorkamer met jou skepping. En net daar, in die stoorkamer, beleef ek een van die mees vreesaanjaende oomblikke van my lewe: ek kry nie my broek aangetrek nie! Ek was so opgewonde oor die feit dat ek klaar was met die projek, dat ek (en Juffrou Potgieter) nooit gesien het dat ek die broekspype se some aanmekaar gewerk het nie. En daar staan ek in die stoorkamer met my geel bloesie en my skoolkouse. My kortbroek is – vir alle praktiese doeleindes, ‘n wasgoedpennetjiesak! Ek het wraggies altwee pype toegesoom!!

Ek was nie op die stage daardie aand nie, maar ek het ook nie ‘n sirkel op my rapport gehad nie. Juffrou Potgieter het wel by die opmerkings geskryf: “Annette was ‘n plesier om in die klas te hê, alle sterkte met haar loopbaankeuse in die toekoms”.

…en skielik – uit dankbaarheid, pluk ek my Edgars-swartbroek uit die kas en ‘n gevoel van salige verligting sak

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button