NewsNews

Pragstudent wen in internasionale modekompetisie

’n Student aan die NWU se Potchefstroomkampus, Izelle van Vuuren, is onlangs as die model met die beste nasionale uitrusting by ’n internasionale skoonheidskompetisie wat van 10 tot 17 September in Georgia, Europa plaasgevind het, gekroon. ’n Student aan die NWU se Potchefstroomkampus, Izelle van Vuuren, is onlangs as die model met die beste nasionale …

’n Student aan die NWU se Potchefstroomkampus, Izelle van Vuuren, is onlangs as die model met die beste nasionale uitrusting by ’n internasionale skoonheidskompetisie wat van 10 tot 17 September in Georgia, Europa plaasgevind het, gekroon.


Izelle is ’n tweedejaar B.Sc. Dierkunde en Fisiologiestudent en is verkies as lid van Dinki Dameskoshuis se huiskomitee met die portefeulje SJGD (Studente JOOL Gemeenskapsdiens). Sy is ook vanjaar gekies as Mej. Dinki.
Izelle het deelgeneem aan Miss Planet, waar sy die top 10 behaal het, en die eerste Suid-Afrikaner in die bestaan van die kompetisie is wat die beste nasionale uitrusting-afdeling gewen het.
“Dit is ’n baie moeilike afdeling om te wen aangesien elke land se nasionale uitrusting fenomenaal is, en Suid-Afrika ook nie ’n spesifieke nasionale uitrusting het nie,” sê sy.
Vanjaar was die twaalfde jaar wat die kompetisie aangebied word. Daar is 45 lande wat om die titel meeding en Izelle was onder die top tien. Dit was die tweede keer dat Izelle aan ’n internasionale kompetisie deelgeneem het. Sy het in Desember 2016 aan Miss Tourism International in Maleisië deelgeneem.


“Dit is elke keer ’n groot eer en voorreg om ons land te verteenwoordig op ’n internasionale verhoog. Elke kompetisie verg egter baie voorbereiding en beplanning,” sê sy.
In die afdeling vir beste nasionale uitrusting word die deelnemer beoordeel vir hoe goed sy haar land uitbeeld, sowel as hoe goed sy die uitrusting vertoon.
Izelle se nasionale uitrusting het verskeie aspekte van Suid-Afrika uitgebeeld, soos die land se minerale, die voëls en die Groot 5. “Daar was baie hande wat aan my uitrusting gewerk het. My rok is ’n Anel Botha rok wat deur Tharin Cronje van Kyna Consili verander is, en my hooftooisel is deur my pa, Louis van Vuuren ontwerp en gemaak.”
Sy sê dat dit vir haar ’n groot eer was om die toekenning te wen aangesien die beoordeling van die uitrusting ’n baie groot deel van die kompetisie was, en ook omdat sy die eerste Suid-Afrikaner is wat dié toekenning gewen het.
Izelle doen al vir vier jaar modelwerk waarin sy al verskeie titels verower het. Sy ondersteun ook verskillende liefdadigheidsorganisasies en projekte. “Ek doen ook gereeld modeparades vir Jose De Canha, Werner Dey, Anel Botha, Leo Validus en vele meer bekende ontwerpers.
Sy is tans ook ’n finalis vir Miss ECO SA en Supermodel International SA, waar die wenner Suid-Afrika internasionaal gaan verteenwoordig in 2018. Sy is intussen ook gekies om Suid-Afrika in Sri Lanka by ’n internasionale kompetisie te verteenwoordig.

Related Articles

Back to top button