NewsNews

Laat Parys blom vir Tuindag

Of jy ‘n  blomtuin, kweekhuis, potplante op die stoep of ’n groentetuin vol blomkool het. Sondag 15 Oktober is Tuindag. Sit terug en geniet jou tuin! Onlangse navorsing1 oor tuingewoontes toon dat mense te min kans kry om in hul tuin te ontspan, en meer tyd wil hê om die vrugte van hul arbeid te …

Of jy ‘n  blomtuin, kweekhuis, potplante op die stoep of ’n groentetuin vol blomkool het. Sondag 15 Oktober is Tuindag. Sit terug en geniet jou tuin!

Onlangse navorsing1 oor tuingewoontes toon dat mense te min kans kry om in hul tuin te ontspan, en meer tyd wil hê om die vrugte van hul arbeid te pluk.

Daarom  vier ons Tuindag om mense aan te moedig om te ontspan en gehaltetyd saam met hul bure, familie en vriende in hul tuin deur te bring.

Die studie wys ook dat die meeste mense meer tyd (20%) aan tuinwerk as aan ontspanning in die tuin bestee. Sommiges bestee selfs die ekwivalent van ’n maand per jaar aan plant, onkruid uittrek en watergee. Geen wonder dat meer as twee derdes (70%) wens hulle kan langer in hul tuin ontspan nie.

Die studie wys dat mense in hul tuin op hul gelukkigste voel. Dis vir hulle selfs lekkerder as ’n aand uit (18%) of televisie kyk (16%). Nege uit tien (88%) deelnemers aan die studie sê die tyd wat hulle buite in hul tuin deurbring, hou gesondheid- en welstandvoordele in.

“Die 21ste eeu is die ene gemaksug en verbruikersdruk. Die natuur word vir ons iets vreemds, veral as ons in ’n stad woon,” sê die tuinskrywer Jane Griffiths. “My organiese groentetuin is my oase en toevlugsoord, maar dit gee ons ook gesonde organiese groente en kruie. Ek moedig almal aan om dié Tuindag hul selfone eenkant te sit en die TV af te skakel. Gaan eerder buitentoe na jou eie tuin, of vriende s’n, en kom weer in voeling met die natuur.”

Plant-idees vir Tuindag

Laai die toep Gardening with Babylonstoren op jou selfoon af. Dis ook gratis van die Tuindagwebwerf by www.tuindag.co.za te kry. Of besoek jou naaste kwekery of tuinsentrum vir inspirasie. Gaan na die Life is a Garden-webwerf by www.lifeisagarden.co.za en soek jou naaste tuinsentrum of kwekery daar.

Onthou die Free State/Madeira Flower Festival wat later vanjaar op 1 en 2 Desember hier in Parys gehou. Stuur ‘n foto van jou spogtuin,  of ‘n sypaadjie verfraaiing wat jou oog getrek het na gazettenuus@gmail.com, of vertel ons van jou tuinwenke wat werk op Parys Gazette se Facebookblad. Ons hoor graag van jou.Kom ons laat Parys blom!

Kyk net die kreatiewe motorband blombak-idee van Dome Primary skoolhoof, Wilna van Buren-Scheele

Kyk net na die kleurvolle idee vir ‘n lentetuin. Foto Netwerk 24.

Related Articles

Back to top button