NewsNews

Disleksie – weet ons genoeg hiervan

Internasionale Disleksie-bewustheidsmaand word jaarliks in Oktober gevier en poog om eensgesinde organisasies saam te snoer deur kennis en hulpbronne oor disleksie te deel met ouers, onderwysers, en die algemene publiek. “ʼn Gewilde sienswyse is dat disleksie ’n breinversteuring is wat andersins intelligente en slim kinders laat sukkel met lees, spel, en skryf,” verduidelik Susan du …

Internasionale Disleksie-bewustheidsmaand word jaarliks in Oktober gevier en poog om eensgesinde organisasies saam te snoer deur kennis en hulpbronne oor disleksie te deel met ouers, onderwysers, en die algemene publiek.

“ʼn Gewilde sienswyse is dat disleksie ’n breinversteuring is wat andersins intelligente en slim kinders laat sukkel met lees, spel, en skryf,” verduidelik Susan du Plessis, direkteur van opvoedkundige programme by Edublox. “Die probleem lê daarin dat ʼn gebrek aan voldoende inligting rondom disleksie ouers oorweldig laat voel die oomblik as hulle van die gevreesde woord hoor.”

Die term ‘disleksie’ is reeds in 1884 gemunt deur die Duitse oftalmoloog, Rudolf Berlin, en dit is afkomstig van die Griekse woord ‘dys’ wat moeilik beteken, en ‘lexis’, wat woord beteken. Sedertdien het navorsers oor ʼn wye spektrum van dissiplines probeer om te verstaan wat disleksie veroorsaak, en hoe dit oorkom kan word. “In plaas daarvan dat ons die verloop van die navorsing en die groter prentjie oorweeg, is ons geneig om slegs brokkies inligting en feite te onthou. Dikwels is hierdie brokkies inligting en persepsies verouderd en kom dit uit ʼn tydperk voor moderne tegnologie en navorsing ook goeie nuus rondom disleksie aangedui het,” voeg Susan by.

In ʼn neutedop, is sommige van hierdie wanpersepsies:

  • Die brein van dislektiese persone verskil van dίe van swak lesers met ʼn relatiewe lae IK;
  • Hierdie verskille in die brein is die oorsaak van disleksie;
  • ʼn Klomp bekende persone soos Albert Einstein, Walt Disney en Hans Christian Andersen was dislekties;
  • Daar is geen oplossing vir disleksie nie. Een bron het dit baie ongenaakbaar beskryf: “Disleksie is soos alkoholisme, dit kan nooit genees word nie.”*

Susan verduidelik dat kontemporêre navorsing nuwe lig werp op hierdie ou sienswyses. Moderne breinskanderingstegnologie het neurowetenskaplikes toegelaat om die menslike brein meer intensief te bestudeer as ooit tevore. Neuroplastisiteit is ʼn ander studieveld wat bygedra het tot nuwe sienswyses oor disleksie. Navorsing in hierdie veld dui aan dat die mens se brein die vermoë het om inligting te herorganiseer deur nuwe verbindings te vorm deur die verloop van ʼn persoon se hele lewe.

Hier is ’n paar moderne sienswyses wat voortgespruit het uit onlangse navorsing:

  • Die neurowetenskaplike, John D. E. Gabrieli van die Massachusetts Institute of Technology, het vasgestel dat swak lesers eenders dink wanneer hulle lees – ongeag of hulle disleksie het of nie.**
  • In ʼn studie wat in die Journal of Neuroscience aanlyn gepubliseer is, het navorsers die breine van kinders met disleksie vergelyk met twee ander groepe kinders: kinders van dieselfde ouderdom sonder disleksie, en ʼn groep jonger kinders op dieselfde leesvlak as die kinders met disleksie. Die kinders met disleksie het wel minder grysstof gehad as die kinders sonder disleksie, maar hul grysstof het goed vergelyk met die van die jonger kinders op ʼn soortgelyke leesvlak. Die hoofouteur van hierdie studie, Anthony Krafnick, verduidelik dat enige breinverskille die gevolg van die kind se leeservaring was, eerder as die oorsaak van disleksie.***
  • Die biografieë van Einstein, Disney, Andersen, en ander bekende ‘disleksie-lyers’ gee nie enige sterk aanduidings dat hierdie bekendes werklik gesukkel het met disleksie nie – Einstein was al besig om Darwin se leesstof te verslind op die ouderdom van dertien! “Die mite rondom bekende disleksie-lyers is aangevuur deur ondersteuningsgroepe om disleksie in die kollig te hou,” sê Susan. “Die probleem daarmee is dat dit die klem van werklike wetenskaplike kennis oor die veld verwyder en die persepsie aanwakker dat dit net aanvaarbaar is om dislekties te wees omdat bekende baanbrekers ook was. En dis eenvoudig nie die waarheid nie.”
  • Die persepsie dat disleksie ʼn onoorkombare probleem is, is gewortel in die idee dat die brein nie kan verander nie. Vandag weet ons dat die menslike brein ongelooflike dinge kan vermag. Dikwels word disleksie veroorsaak deur grondvaardighede van lees en spel wat nie bemeester is nie – en kinders vorder baie flink as gebrekke met hulle kognitiewe vaardighede uitgesorteer word.

Javier Guardiola, outeur van die navorsingsartikel, ‘Die evolusie van navorsing oor disleksie’ is ʼn aanhanger van kontemporêre navorsing en hoe dit bygedra het tot bewustheid oor disleksie. “Navorsing oor disleksie betrek nou verskeie dissiplines, van opvoedkunde tot neurobiologie. Navorsers hoop dat die uiteindelike oplossing vir hierdie leergebrek lê waar al hierdie dissiplines bymekaarkom,” sê hy.****

Om bewustheid te kweek oor disleksie, moet ons op hoogte bly van die nuutste navorsing en wat dit vir ons kinders beteken. Ons as ouers moet bly uitkyk vir oplossings en ondersteuningsnetwerke wat kan help om simptome wat met disleksie gepaardgaan, te verlig. Die goeie nuus is dat daar nog nooit ʼn beter tyd was om dit te doen nie,” sluit Susan af.

 

Related Articles

Back to top button