NewsNews

Diewe plunder militêre basisse bykans ongehinderd

Die plundering van die SA Nasionale Weermag (SANW) se bates, insluitend wapens en ammunisie terwyl daar byna geen suksesvolle vervolging is nie, is skokkend en dui op ʼn verval in die bevelstruktuur in die SANW, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus. In die antwoord op ʼn geskrewe parlementêre vraag van dr. Groenewald …

Die plundering van die SA Nasionale Weermag (SANW) se bates, insluitend wapens en ammunisie terwyl daar byna geen suksesvolle vervolging is nie, is skokkend en dui op ʼn verval in die bevelstruktuur in die SANW, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
In die antwoord op ʼn geskrewe parlementêre vraag van dr. Groenewald aan die minister van verdediging en militêre veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het dit aan die lig gekom dat daar in 2016 altesame 417 voorvalle van diefstal (272) en inbrake (145) by die onderskeie weermag-eenhede plaasgevind het. (Volledige vraag en antwoord hierby aangeheg).
Tot dusver was daar net veertien gevalle van suksesvolle vervolging. Hiervan was elf vir diefstal en drie vir inbraak. Nie een persoon is suksesvol vervolg vir die diefstal van wapens nie.
ʼn Wye verskeidenheid items is gesteel, maar veral kommerwekkend is die groot voorkoms van die diefstal van wapens en ammunisie in dié tydperk. ʼn Opvolgvraag sal aan die minister gerig word oor die hoeveelheid en tipe wapens wat gesteel is.
Die diefstal van rekenaartoerusting kom ook wyd voor, maar letterlik alles word gestroop waarop diewe hul hande kan lê; van kos, batterye, petrol, drank, kontant, fietse, tuintoerusting tot kampeertoerusting, klere, motoronderdele, uniforms en dokumente.
Dr. Groenewald sê hierdie syfers maak dit duidelik dat daar nie meer behoorlike bestuur in die SANW is nie. Hy sê dit is die direkte uitvloeisel van Regstellende Aksie (RA) wat gelei het tot swak opleiding en ʼn gebrek aan dissipline.
“Opvallend is dat daar selfs by die militêre polisie onder meer wapens, rekenaartoerusting en kontant gesteel is terwyl dit juis hulle is wat moet sorg dat die SANW se eiendom beskerm moet word.
“Indien die SANW nie eens in staat is om sy eie basisse teen diefstal en stroping te beskerm nie, kan daar met reg gevra word tot watter mate hy in staat is om die land en sy inwoners teen ʼn moontlike bedreiging te beskerm,” sê dr. Groenewald.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button