NewsNews

Hart eis geliefde rugby-afrigter

VEREENIGING. – Die Vereeniging-rugbyklub se vlae hang vandeesweek halfmas nadat een van sy lieflingseuns, Willem Greyling (51), verlede Donderdag aan ’n hartaanval dood is. In die 32 jaar wat hy by die klub betrokke was, het hy diep spore as speler en afrigter, nie net op die speelveld nie, maar ook in die mense se …

VEREENIGING. – Die Vereeniging-rugbyklub se vlae hang vandeesweek halfmas nadat een van sy lieflingseuns, Willem Greyling (51), verlede Donderdag aan ’n hartaanval dood is.
In die 32 jaar wat hy by die klub betrokke was, het hy diep spore as speler en afrigter, nie net op die speelveld nie, maar ook in die mense se harte getrap.
“Die klub is nie dieselfde nie. Ons trek baie swaar sonder hom,” het Bok Penning, voorsitter van die Vereeniging-rugbyklub, gesê.
Op vleuel het Willem stringe wedstryde vir Vereeniging se eerste rugbyspan en die Vaaldriehoek se Steenbokspan gespeel.
“Ek het saam met hom gespeel. Een ding van hom wat ek nooit sal vergeet nie, is sy dodelike verdediging,” het Penning gesê.
Oom Willie, soos hy aan die spelers en jonger toeskouers by die klub bekendgestaan het, het die afgelope twee jaar die klub se tweede span afgerig.
“Sy span het Saterdag in beseringstyd gewen. Hulle het die wedstryd aan hom opgedra. Toe die eindfluitjie blaas het almal in trane uitgebars. Hulle wou hom vir oulaas nie teleurgestel het nie. Dit is ‘n baie emosionale tyd vir die klub.”
*Hy is Maandagoggend vanuit die Ou Evangelie Kerk in Ben Olivierstraat in Sasolburg begrawe.
Hy laat sy vrou Henriëtte, sy seuns Hendrik en Danie, asook sy stiefkinders Christiaan en Lise-Marie Franke agter.
*Vaaldriehoek-rugby is die afgelope maand verder geskud met nog twee prominente rugby-afrigters wat met hartprobleme gediagnoseer en gehospitaliseer is.
Christo Abrahams (68), afrigter van die Vaal Universiteit van Tegnologie se eerste rugbyspan, het vroeër vandeesmaand ‘n hartaanval gehad. Hy is intussen geopereer en is weer op die been langs die rugbyveld.
Hy is een van die mees ervare afrigters in die Valke-streek. Hy het onder meer al die Valke amateurspan afgerig en al amper elke klub in die Vaaldriehoek se eerste rugbyspanne gebrei.
Stefan Jacobs (41), hoofafrigter van die Vereeniging-rugbyklub, het verlede Saterdagoggend nadat hy muurbal gespeel het, begin sleg voel en dokter toe gegaan.
’n Elektro-kardiogram (EKG) het ’n hartprobleem bevestig en hy het drie stents gekry om die vernouings te herstel.
Hy is intussen uit die hospitaal ontslaan en sterk goed aan.

Stefan Jacobs
Stefan Jacobs
Christo Abrahams
Christo Abrahams
Wyle Willem Greyling en sy vrou Henriëtte.
Wyle Willem Greyling en sy vrou Henriëtte.

Related Articles

Back to top button