Só word vragmotors beroof
Koepel Abattoir het verlede week ook deurgeloop onder die landwye tendens waarmee vragmotors nou in die ry van hul vrag beroof word. Gelukkig vir die abattoir het hulle reeds die vrag afgelaai en was die koeltrok leeg. Die videobeeldmateriaal van die kameras agterop die voertuig toon egter duidelik hoe daar te werk gegaan is tydens …

Koepel Abattoir het verlede week ook deurgeloop onder die landwye tendens waarmee vragmotors nou in die ry van hul vrag beroof word.
Gelukkig vir die abattoir het hulle reeds die vrag afgelaai en was die koeltrok leeg.
Die videobeeldmateriaal van die kameras agterop die voertuig toon egter duidelik hoe daar te werk gegaan is tydens die roofpoging verlede Dinsdag in Alberton. Die skuldiges is dikwels “straatsmouse” waarvan een op die vragmotor spring sodra die verkeerslig na groen oorslaan en die vragmotor begin ry.
Sy makker/s hardloop dan agter die vragmotor aan, terwyl die vragmotor se deure ongesiens op ’n skrefie oopgemaak word, en die man op die vragmotor die vrag blitsig vir sy makkers op die pad afgooi, tot daar weer by die volgende verkeerslig stilgehou word, waar hy dan afspring. Dit gebeur so vinnig dat die bestuurder van die vragmotor dit nie in sy truspieëltjies sien nie.
Koepel Abattoir het vantevore al onder misdadigers wat dieselfde modus operandi volg, deurgeloop. Die vorige keer was in Vereeniging.
Dit was toe ook by ’n verkeerslig naby ’n taxi-staanplek, waar die slotte van die vragmotor se deure in die ry geknip en die vleis uit die koeltrok gesteel is. Volgens die polisie is dit ’n groot bron van kommer. Motoriste word versoek om hul naaste polisiestasie te kontak indien hulle sulke verdagte bewegings sou opmerk.



