Entertainment

Aardklop lok topdenkers vir warm gesprekke

Omtrent 40 van Suid-Afrika se invloedrykste denkers sak van 3 tot 7 Oktober op Potchefstroom toe vir nie minder nie as 12 gespreksreekse – die meeste ooit by ’n kunstefees in die land. Van politiek tot sake- en grondkwessies – feesgangers kan elke dag gratis saampraat oor die dinge wat hulle harte en koppe roer…. …

Omtrent 40 van Suid-Afrika se invloedrykste denkers sak van 3 tot 7 Oktober op Potchefstroom toe vir nie minder nie as 12 gespreksreekse – die meeste ooit by ’n kunstefees in die land. Van politiek tot sake- en grondkwessies – feesgangers kan elke dag gratis saampraat oor die dinge wat hulle harte en koppe roer.

Die feesbestuurder, Alexa Strachan, sê die Rede-kabel-gesprekkereeks bied iets vir elke smaak. Soggens tussen 10:00 en 11:00 word daar oor aktuele kwessies besin by die gesprekke wat in samewerking met Beeld aangebied word. Smiddae van 14:00 tot 15:00 is dit tyd vir Netwerk24 se “Sake en sauvignon”-sakegesprekke wat reeds landwyd vol sale trek, en saans van 18:00 tot 19:00 volg Landbouweekblad en ABSA se Landbou en braaivleis-gesprekke.

Aardklop bied feesgangers ook die seldsame geleentheid om met verskillende politici saam te praat oor brandpunte soos grondhervorming en die land se politieke toekoms. Dr Matthews Phosa (anti-apartheidsaktivis en voormalige premier), John Steenhuisen (DA-hoofsweep) en die ANC-leier in Noordwes, Supra Mahumapelo, sê op Vrydag 10 Oktober hulle sê oor die 2019-verkiesing, en praat prontuit oor die moontlikheid van ’n regering van nasionale eenheid. Die UDM-leier, Bantu Holomisa, en die EFF se adjunkpresident, Floyd Shivambu, neem op hulle beurt op Dinsdag 3 Oktober om 18:00 aan ’n debat oor grondhervorming deel.

Rede-kabel skop egter op Dinsdag 3 Oktober om 10:00 af met ’n gesprek oor die invloed van televisiesepies op die samelewing. Hier kom die bekende akteur en 7de Laan-regisseur Christo Davids, sowel as Suidooster-akteur Gideon Lombard en Elsje Stark, die stigter van Generations en Binnelanders, saampraat.

Noordwes se landbougemeenskap en ander belangstellendes kan ook uitsien na nie minder nie as vier vroegaand-gesprekke oor alles van plaasveiligheid tot landbouproduktiwiteit. Verskeie landbou-organisasies, waaronder Agri SA, Senwes, Suidwes Landbou, Agribiz en TLU SA, stuur topkenners om te kom saampraat.

Netwerk24 se gewilde Sake en Sauvignon beloof om ook ’n trefferreeks te wees. Die kykNET-aanbieder en uitvoerende hoof van Galileo Capital, Theo Venter, en Hanlie Stadler, Netwerk24 se sakeredakteur, koukus onder meer oor beleggings in moeilike tye en aftredebeplanning.

Onder die 12 gespreksleiers tel die gewilde RSG-aanbieders Suzanne Paxton en Anita Visser, Beeld se redakteur, Barnard Beukman en Kabous Meiring, wat Prontuit op kykNET aanbied. Die Rede-kabel-reeks staan onder leiding van die skrywer en mediapersoonlikheid Ivor Price, wat ook in sy hoedanigheid as ’n Aardklop-direksielid ’n gesprek gaan fasiliteer.

Al die gesprekke word vanjaar gratis by die NWU Besigheidskool aangebied. By die oggendgesprekke kry bywoners boonop ’n koppie koffie en Beeld vir slegs R10, terwyl ’n glas wyn by Netwerk24 se Sake en Sauvignon ingesluit is. Vir Landbou en braaivleis kan ’n glas wyn en braaivleis vir R120 by Computicket gekoop en na afloop van die vroegaanddebatte geniet word (landbougesprekke is wel gratis).

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button