BlogsOpinions

Uit my dagboek: Nuwe pa: My kind is die beste

Is ek een van daai ouers? Een van daai ouers wat glo sy kind is die sterkste, slimste, mooiste kind in die wêreld. Ja, ek is. Ek dink alle ouers is.

Is ek een van daai ouers? Een van daai ouers wat glo sy kind is die sterkste, slimste, mooiste kind in die wêreld. Ja, ek is. Ek dink alle ouers is.
In my eie verdediging, Aiden is slimmer, sterker en mooier as meeste babas. Nee, regtig ek gee hom twee maande dan begin hy loop en praat, hy gaan nie nog sukkel met kruip nie. Hulle sê kruip is goed vir kinders se ontwikkeling maar ek dink Aiden gaan een van daai kinders wees wat sommer Gr. 1 en 2 oorslaan en met Gr. 3 begin.
Heel moontlik op die ouderdom van twee het hy al homself leer lees, dan wanneer hy vier word kan ons die klassieke boeke begin bespreek. As sy sportaktiwiteite dit toelaat, want hy sal teen vier jaar al seker die top bulletjie rugbyspeler wees.
As ek kyk na sy vordering sover, is dit maar net die logiese aanname wat ek maak.
Ek is een van daai ouers, ek kan vir ure lank praat oor hoe wonderlik my kind is, ek doen dit nie eers aspris nie, voor ek my kan kry, het ek al vir mense vertel hoe wonderlik Aiden in die bad speel of hoe hy vandag drie keer vir my geglimlag het. Onbenullighede wat ander mense nie noodwendig oor omgee nie.
Ek sê weer alle ouers is op een of ander vlak, so ons almal glo ons babatjie is die beste, daar is nie fout om so te dink nie. Dit is eintlik net die liefde wat jy vir die kind voel wat oorstroom uit jou uit.
Dit raak dalk gevaarlik wanneer jy as ouer soveel druk op die kind plaas later in die lewe om die beste te wees dat die kind eintlik net ophou omgee oor enige iets. Ek glo nie ek sal vir altyd sulke onrealistiese ideale hê vir Aiden nie. Mens kan mos sien waar lê jou kind se sterk punte en waar blink hy dalk nie so baie uit nie. As hy soos ek is, en van kleins af altyd laaste kom met atletiek, sal ek dalk van die begin af sê, “Mooi probeer seun, ek sien jy het jou beste gegee maar dalk moet ons kyk na iets anders vir jou.”
Ek dink ondersteuning en liefde is eintlik al wat jou kind kort om die beste weergawe van homself te wees.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button