NewsNews

“Seksparkie” naald beland in kind (3) se voet

Die berugte “seksparkie” in die hartjie van Potchefstroom, waar vroue van die nag sake doen en wat ook gereeld deur dwelmgebruikers besoek word, lyk nie net sleg nie, maar dit hou ook ’n gevaar vir inwoners in. etro, Roland en Alex van der Westhuizen wys die naald waarin klein Alex getrap het. Foto: Dustin Wetdewich …

etro, Roland en Alex van der Westhuizen wys die naald waarin klein Alex getrap het. Foto: Dustin Wetdewich

Die berugte “seksparkie” in die hartjie van Potchefstroom, waar vroue van die nag sake doen en wat ook gereeld deur dwelmgebruikers besoek word, lyk nie net sleg nie, maar dit hou ook ’n gevaar vir inwoners in.

So lyk dit teen die woonstelmuur waar vuur gemaak word. Foto: Dustin Wetdewich

’n Driejarige seuntjie het in ’n spuitnaald getrap wat van dié parkie afkomstig is.
Die Herald het ’n paar maande gelede ook oor dié parkie op die hoek van Oliver Tambo en Van der Bentstraat, en wat veronderstel is om ’n speelparkie vir kinders te wees, berig.
Gebruikte kondome, vullis en spuitnaalde lê oral rond en daar is plekke waar vuur gemaak word.
Met die Herald se besoek vandeesweek aan dié parkie, het dit geblyk dat nog niks verander het nie. Inteendeel, die polisie het onlangs ook daar kartonhouers verwyder wat deur prostitute as skuilings gepak is om sake te doen. Een van die inwoners van ’n aangrensende woonstelblok, Roland van der Westhuizen, se 3-jarige seuntjie Alex, het Sondagaand omstreeks 18:30 saam met sy maatjies in die kompleks waar hulle woon gespeel. Hulle speel binne die kompleks omdat dit heeltemal te gevaarlik by die parkie is.

Die bord voor die park wat aandui wat alles in die park verbode is.

Volgens van der Westhuizen se vrou Petro, het sy haar kind gehoor skreeu en gesien dat hy in ’n naald getrap het.
“Die naald was redelik diep in en toe ek dit uittrek, het dit begin bloei,” vertel sy.
Hulle het Alex dokter toe geneem wat vir hom antibiotika gegee het. Hulle kan egter eers oor ses weke bloed trek om te sien of hy moontlik siektes opgedoen het deur middel van die besmette naald.
Volgens Roland bekommer hy hom nou dood, elke keer as Alex sê dat hy nie lekker voel nie.
Hulle woon al vyf jaar in die kompleks wat op die parkie uitkyk en sê daar sit elke dag mense in die park wat dwelms gebruik.
“Ons jaag hulle al self weg. Ons jaag selfs die prostitute weg, want hulle doen hul sake sommer daar in die parkie,” vertel hy. Die prostitute het hom al gedreig en hulle kliënte opgesteek om hul woonstel met bierbottels en klippe te gooi. “Dit raak net erger en ons is regtig moedeloos. Dit voel of ons wet in eie hande wil neem. Ons was al baie by die polisie, maar hulle sê dit is ’n openbare plek en hulle kan nie mense daar verjaag nie. ’n Petisie is al aan die munisipaliteit oorhandig, maar nog niks het gebeur nie. Dalk moet hulle net die park omhein,” sê hy.
Volgens Pieter Pienaar, wyksraadslid, het hy nog geen klagtes oor die park ontvang nie, maar sê dat dit vir hom ook nou ’n bekommernis is.
“Die feit is die munisipaliteit het nie die vermoë om dienste te lewer nie. Dit is bewys deur ’n brief wat die burgemeester aan die LUR gestuur het om vir hulp te vra,” sê hy. (Berig op bl. 4).
Volgens hom is dit onaanvaarbaar en sal hy self amptenare versoek om ten minste die park skoon te kry. “Dit sal ook help as die polisie meer sigbaar in die gebied is,” sê hy. Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, is die polisie ten volle toegewyd met die geveg teen misdaad, maar dat prostitusie moeilik is om te bewys.
“Ons moet die verdagtes op heterdaad betrap om hulle ten minste van openbare onsedelikheid aan te kla. Dit is moeilik om oral te wees,” het hy gesê. Die polisie het wel onlangs prostitute van die park verjaag nadat hulle kartonhouers gebruik het om ’n skuiling te bou. Volgens William Maphosa, munisipale woordvoerder, is die situasie ’n groot uitdaging vir die munisipaliteit. “Een opsie is om die park te omhein en sekuriteit aan te stel wat die munisipaliteit se beperkte hulpbronne onder druk sal plaas. ’n Ander goedkoper opsie is om beligting by die park te verbeter. Die raad sal die begroting vir parke moet verhoog, of die wyksraadslid kan gevra word om dit uit die wyksbegroting te befonds,” het Maphosa gesê. ’n Verslag wat die Herald vroeër vanjaar onder oë gehad het, wys dat die parke-afdeling onder geweldige druk werk.
Meer as 60 persent van die afdeling se masjinerie is buite werking, daar is nie genoeg werkers nie en ook nie genoeg geld om meer mense aan te stel nie.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button