NewsNews

ALFA-fees: Die landboubedryf uit die oog van die veeboer

Alles en nog meer vir veeboere en die veebedryfrolspelers. Dit is wat vandeesweek alles onder een dak gesien kan word by die ALFA-fees in Parys wat van 12 tot 14 September by die AfriDome met sy wêreldklas fasiliteite gehou word. Of jy self boer, belang het by die bedryf, of sommer net wil kom kyk …

Alles en nog meer vir veeboere en die veebedryfrolspelers. Dit is wat vandeesweek alles onder een dak gesien kan word by die ALFA-fees in Parys wat van 12 tot 14 September by die AfriDome met sy wêreldklas fasiliteite gehou word.
Of jy self boer, belang het by die bedryf, of sommer net wil kom kyk na die veilings, interessante uitstallings en besprekings – ALFA-fees bied iets vir oud en jonk.
Die naam Alfa staan vir African Livestock Trade FAIR. Vanjaar is die tweede jaar dat die fees hier aangebied word as sentrale punt vir veeverwante langbougeleenthede met die fokus op die totale landboubedryf vanuit die oë van die veeboer.
ALFA vervang geen aktiwiteite op die bestaande veekalender nie, sê Albert Loubser, een van die organiseerders. “Die doel is juis om ondersteunend tot bestaande streekskoue te funksioneer.”
Die fees bied uitstekende geleentheid om nuwe dinge te leer, aankope te doen, te netwerk en baie meer met mense uit dieselfde bedryf.
Verskeie mini-ekspo’s word aangebied waaronder die Rooivleisprodusente Organisasie se Rooivleis Ekspo, die Melkprodusente Organisasie se Suiwel Ekspo en OVK se telersekspo. Dan word daar ook gekyk na die wildbedryf en plaasveiligheid.
Die landboujeugfokus hoogtepunte op vanjaar se program sluit in die FNB landbouskole-uitstalling, die Veeplaas-vasvrakompetisie vir landbouskole, Voermol se grootveejeugskou, Konsortium kleinveejeugskou, Toyota SA Nasionale Junior Afslaerskompetisie, die Obaro junior slagoskompetisie, JSE wolhanteringskompetisie, Zoetis junior interras kampioenskap, Santam Junior Kuilvoerkompetisie, ALFA sweepslaankompetisie en die Sernick junior kaskarkompetisie.
Die Hinterland Nasionale Interras kampioenskappe is verseker ’n  hoogtepunt op die program. Beide die manlike en vroulike goue-beker of grootkampioen-wenners van die 10 grootste streekskoue se inter-kampioenskappe neem op uitnodiging deel aan die Nasionale Interras kampioenskappe by ALFA waar die nasionale kampioene gekroon sal word.
Vir die kleinveebedryf is daar verskeie rasuitstallings.  met meer as 20 verskillende kleinveerasse en -tipes wat uitgestal word en op stilveilings te koop aangebied word.
Daar sal ook wolhanteringsaanbiedings wees en ’n  volledige demonstrasie van ’n  intensiewe skaapproduksie-eenheid.
Hierbenewens is daar die Wagyu- en wynparings  op die sosiale program en ’n  kaaskursus die Dinsdag en Woensdag.
Hekke is oop op die 12de van 09:00 tot 18:00, op die 13de van 08:00 tot 18:00 en op die 14de van 08:00 tot 18:00.
Toegang is slegs R50 per persoon per dag vir volwassenes en R30 per kind per dag. Jy kan ook ’n  kaartjie koop vir die 3 dae wat die fees duur teen R120.

Related Articles

Back to top button