NewsNews

Gru-verhale van onthou ná plaasaanvalle

“Vrydag was ek “bevoorreg” om ’n  hele klompie mense te ontmoet wat slagoffers van plaasaanvalle was. Ek weet nie of mens kan sê jy is bevoorreg nie,want dit is hartseer. Maar hulle is ongelooflike dapper mense en daarom is dit seker op ’n  manier ’n  voorreg. Ek het al voorheen meer as een keer met …

“Vrydag was ek “bevoorreg” om ’n  hele klompie mense te ontmoet wat slagoffers van plaasaanvalle was. Ek weet nie of mens kan sê jy is bevoorreg nie,want dit is hartseer. Maar hulle is ongelooflike dapper mense en daarom is dit seker op ’n  manier ’n  voorreg. Ek het al voorheen meer as een keer met die slagoffers van misdaad gesels. Dikwels kort nadat hulle aangeval was. Of soms met hul geliefdes, wanneer hulle vermoor is.”
“Maar om op’n  klein plekkie soos Vredefort te kom en soveel mense, soveel leed en soveel dapperheid op een plek te ervaar is iets anders…En dan tref die omvang van die geweld, die wreedheid en misdadigheid in hierdie land ’n  mens eers werklik. Party is dood ander leef, ander dra die permanente fisieke letsels en ander se letsels sien jy nie met die oog nie.”
“Maar dan sien jy die blikkie pepersproei aan n bandjie om die tannie se lyf en jy besef: sy leef elke dag met die vrees dat hulle weer kan kom. Hoe gaan jy aan as jou man voor jou oë doodgeskiet word? Hoe gaan jy aan as jou tone met n hamer só geslaan is dat jy kruppel loop?”
“Of as hulle met n elektriese boor drie gate in jou voete geboor het? Ek weet nie.”
“Wat my sal bybly is almal se hardnekkige geloof en hulle weiering dat hul lot deur’n groep wreedaards bepaal word….In hierdie land is ’n  lewe spotgoedkoop, en die prys van vryheid is onbetaalbaar duur: nie eens bloed kan dit koop nie.”
Hierdie woorde van Volksblad-verslaggewer, Alet van der Walt som die rou emosie op wat Vrydag hier in Vredefort beleef is toe slagoffers van plaasaanvalle die  motorfietsryers van die 911 Bikers Ride Against Farm Murders ((11 BRAFM) ontmoet het met hul protesrit deur die Vrystaat wat gister ten einde geloop het.
’n  Rit waarmee daar by elke polisiestasie in die dorpe wat hulle besoek, ’n  memorandum oorhandig is om hul bereidheid te wys om saam met die polisie te help om boere se veiligheid te verseker . Oor die 6 dae sou daar 2 521km gery word en 31 dorpe besoek word, waaronder  ook Parys en Vredefort.
Past. TJ Maré van Nelspruit het die ritte begin reël om die gruwel van plaasaanvalle onder die aandag van mense tot op die hoogste vlak te bring.
Vrydag was ’n  seer dag van onthou. Hiervan kon een van die slagoffers getuig, wat ná die dag geskryf het: “Dit het my net weer laat besef hoe begenadig ek was. Die man wat my met ’n  vuurwapen aangehou en gedreig het om my te verkrag en dood te maak, het begin twyfel toe ek hardop tot God geroep het. Ek kon met hom onderhandel met ’n  kalmte wat net van Bo kan kom. Behalwe die seer om my man te sien ly en my kinders se woede te aanskou, het ek sonder ’n  skrapie daarvan afgekom – al die eer aan God! Ek kon Vrydag met dankbaarheid weer  besef daar is oorwinning ná ’n plaasaanval.
Hiervan was die palms wat aan elke slagoffer oorhandig is, simbolies. ’n  Simbool van hoop en groei selfs ná onbeskryflike angs.
Onmenslike verhale van lyding soos dié verhaal van Nicci Simpson, ’n  boervrou van Fochville wat hy haar plaashek oorval is, aangerand en by haar huis ingedwing is. Haar knie is vergruis toe sy geskop is, en die senings aan haar regterpols is permanent beskadig toe sy met ’n  mes aanhoudend gesny is. Toe haar aanvallers nie die kluis kon oopkry nie, is ’n  boor gebruik om twee gate in haar een voet, en ’n  gat in die ander voet te boor. Hulle het selfs gedreig om haar keel af te sny. Omdat een nie wou hê haar bloed moet op hom kom nie, het hy selfs ’n  jas van Simpson oor sy eie klere aangetrek.
Bernadette Hall se man, David, is by hul melkery in 2012 doodgeskiet. Sy is  in die plaashuis ingedwing en geld, ’n  voertuig en gewere is ge-eis. Sy is soos ’n  skaap vasgebind, hande en voete agter haar rug en haar aanvallers is weg met haar motor. Haar man se boerboel Ceaser, het die toue waarmee sy vasgebind was, met sy bek losgepluk en haar bevry. David was toe reeds dood.
Soos Nicci en Bernadette se verhale, is daar talle ander seer verhale.
Seer wat nooit ooit vergeet sal word nie.

Nicci Simpson een van die slagoffers wat brutaal met onder meer ’n  elektriese boor en mes aangeval is, was onder die talle slagoffers van plaasaanvalle wat die groep motorfietsryers op Vredefort ontmoet het. By haar is past. T.J. Maré van die groep.

Related Articles

Back to top button