NewsNews

Bekende oud-Potchefstromers bring Broadway Betowering

FAME – the musical” is die derde groot musikale-blyspel sedert 2012 waar die bekende oud-Potchefstromers Johan en Nacia Kruger die kreatiewe leiding neem en sorg vir ware Broadway betowering. Alabama-Produksies en Puk Kunste bied vanaf 30 Augustus tot 2 September hierdie uitstekende en hoogs-vermaaklike musikale-blyspel aan in die Sanlam-ouditorium op die Pukkampus. Nacia hanteer die regie, choreografie en die kostuumontwerp, terwyl Johan verantwoordelik is vir die beligtingsontwerp van “FAME – the musical”

Gedurende hulle studentejare was Nacia en Johan beide lid van die bekende Alabama-Studentegeselskap.  Nacia  was ook lid van die Noordwes-Kinderkoor, die Noordwes-Jeugkoor en die PUK-koor. Johan was vir ses jaar lid van Alabama, waarvan hy ook vir 3 jaar die voorsitter was.  Dit is hier waar hy sy kennis en vaardigheide as beligtingsontwerper geslyp het.  Nadat Nacia haar BA-Toerisme graad in 2001 verwerf het, het sy besluit om haar droom te volg en ingeskryf vir die Nasionale Diploma in Musiekteater by die destydse Pretoria Technikon. Johan en Nacia woon tans in Nairobi in Kenia.

 

Nacia is ʼn bewese en uiters ervare verhoogkunstenaar, regisseur en choreograaf en was te siene in verhoogproduksies soos  Deon Opperman se “THE SOUND OF MUSIC” saam met Steve Hofmeyr en “MY FAIR LADY”, Janice Honeyman se “ALADDIN”, “PETER PAN” en “SNOW WHITE” saam met Tobie Cronjé, “GREASE” as die rasieleier “Patty Symcox”, “THE BUDDY HOLLY STORY” en “ESTER – DIE MUSICAL”. Sy was ook te siene in die musiekblyspel “SHOW BOAT” wat getoer het na Swede sowel as Parys in Frankryk waar sy voor gehore van meer as 2000 toeskouers op ʼn keer gespeel het.

 

Gedurende 2013 en 2014 reis sy na die Seychelle vir optredes in “MAMMA MIA!”, “HAIRSPRAY”, “LEGALLY BLONDE” en “THE FULL MONTY”. In 2015 speel sy die rol van die Aaklige Koningin  in “SNOW WHITE” in Kaapstad.

 

Nacia het ʼn aantal produksies die afgelope 15 jaar geregisseer en gechoreografeer wat onder andere insluit “BACK TO THE 80’s”, “GREASE” en “BREAKING UP IS HARD TO DO” vir die Noordwes-Universiteit. “Ek is baie opgewonde oor “FAME” met sy pragtige musiek en geniet dit om weer met die puik talent op kampus te werk.  Dit is inspirerend om te sien hoeveel talent hier is en hoe toegewyd studente kan wees te midde van ʼn druk akademiese program en baie ander aktiwiteite in die studentelewe”, het Kruger gesê.

 

Volgens Glenn Cunniff, produksiebestuurder en medevervaardiger, is dit ʼn opwindende uitdaging om ʼn produksie van hierdie skaal en omvang in net 6 weke aanmekaar te sit.  “Dit verg geweldige fyn tydsbeplanning en spanwerk deur almal betrokke om die produksie suksesvol te laat realiseer. Ons sien egter baie uit na die finale produk”, het Cunniff gesê.

 

Kaartjies verkoop reeds vinnig en kan gekoop word by AJR in die Mooirivier Mall, Protea Boekwinkel op die Bult of Die Heimat-gebou (Gebou F9) op die NWU Potchefstroomkampus.

 

Toegang is slegs R 120 en R 100 en kaartjies kan ook direk via die internet gekoop word by www.artema.co.za of by NWU-Puk Kunste se Facebookbladsy.  Groepsbesprekings kan ook direk by LeRoux Malan gedoen word by 018 – 299 2852.

 

Related Articles

Back to top button