Vlytige oumenshande maak ‘n verskil in kinderlewens
Vlytige oumenshande – sommige al kromgetrek van artritis, werk al vir maande om mooi goedjies te maak vir kleingoed wat nie het nie. So word daar die afgelope ses jaar al vir die Shoprite/Checkers Pretty Things for Little Things inisiatief gewerk deur bejaardes van Sally Martin Park. Selfs uit Schonkenville neem bejaardes aan die …
Vlytige oumenshande – sommige al kromgetrek van artritis, werk al vir maande om mooi goedjies te maak vir kleingoed wat nie het nie.
So word daar die afgelope ses jaar al vir die Shoprite/Checkers Pretty Things for Little Things inisiatief gewerk deur bejaardes van Sally Martin Park. Selfs uit Schonkenville neem bejaardes aan die projek deel.
Verlede jaar is daar 515 kreatiewe, kleurryke items uit Parys ingeskryf. Van truie, mussies, serpe, rokke, baadjies, poncho’s en teddies tot poppe, opvoedkundige speletjies en houtspeelgoed. Aan idees het dit nie ontbreek nie, met die fokus sterk op herwinbare materiaal.
Die groot dryfkrag agter die projek om soveel moontlik items uit Parys in te skryf, is Cathy du Plessis. So het sy vanjaar nagenoeg 40 vroue en ’n man omgepraat om deel te neem, waarvan die meeste deelnemers tussen 60 en 92 jaar oud is. Cathy het selfs Sally Martin Park se nagskof personeel geleer hekel en kon hulle ook vanjaar vlytig aan die projek deelneem.
Die bejaardes se harde werk is al beloon met die grootste getal pryse vir Parys die afgelope vier jaar, en twee items wat selfs op nasionale vlak hul kategorieë gewen het.
Hierdie Vrydag 18 Augustus kan mense gerus kom kyk na wat alles vanjaar gemaak is met die uitstalling wat by Sally Martin Park van 10:00 tot 15:00 besigtig kan word in die Wynn Dedwith-saal.
Daar is veral baie seunsspeelgoed, met van ’n sirkustrein, helikopters en vliegtuie, tot resieskarre. Dan is daar ook die baie gewilde stokperde, pragtige komberse en selfs “mediese” teddies.
Toegang by die uitstalling kos R10 per persoon. Kom kyk gerus na Parys se bejaardes se kreatiewe talent. Vir navrae skakel Cathy du Plessis by 083 354 1020.



