NewsNews

Opleiding is soos ‘n Hysbak

“Enige opleiding is belangrik, of dit akademies of prakties is. Sekere ambagte is baie meer werd as sekere akademiese kwalifikasies” Dr. Johan de Lange. Johan de Lange van Vanderbijlpark skryf: Die lewe is vol vergelykings. Hier is nog een. Skool opleiding en veral naskoolse opleiding is soos ‘n hysbak. Wanneer jy gebore word is jy …

Dr. Johan de Lange.

Johan de Lange van Vanderbijlpark skryf:

Die lewe is vol vergelykings. Hier is nog een.

Skool opleiding en veral naskoolse opleiding is soos ‘n hysbak.

Wanneer jy gebore word is jy op grondvloer.

Teen die tyd wat jy ses jaar oud is, klim jy die eerste keer in die hysbak. Laerskool. Dit neem jou na die eerste vloer van die lewe. Sommer hier al begin dinge skeefloop. Baie kinders wil nie leer nie. Hoekom nie? Baie redes, maar die grootste rede is die ouers. As die ouers die kind nie laat leer nie doen hy of sy swakker as wat nodig is en die leerfondament is klaar wankelrig.

Dan volg hoërskool. Hier word dit bietjie moeiliker en Jannie of Sannie ontdek ‘n voorsmakie van die lewe. Hormone, sport, musiek, drank en selfs dwelms. As Mammie en Pappie hulle werk nie reeds op laerskool gedoen het nie wil die tiener glad nie meer leer nie en die pad is geplavei vir ‘n gemiddelde toekoms. Hoërskool neem jou tot op die tweede vloer. As jy na hoërskool nie verder leer nie, klim jy op die tweede vloer uit die lewenshysbak uit. Nou is jy op jou eie, want jy wou nie of kon nie op skool leer nie. Van hier af is dit moeilik om te vorder in die lewe. Jy is nou eintlik onopgeleide arbeid.

Indien jy egter die geleentheid het om verder te studeer in enige rigting beteken dit jy neem die lewenshysbak na die derde vloer. Enige opleiding is belangrik, of dit akademies of prakties is. Sekere ambagte is baie meer werd as sekere akademiese kwalifikasies. Wanneer jy na ‘n paar jaar se tersiêre opleiding uit die lewenshysbak uitklim is jy bykans verseker van ‘n redelike goeie werk en redelike goeie salaris.

Indien jy die geleentheid, die energie en die finansies het behoort jy nog verder te studeer. Weereens, akademies of prakties maak nie altyd baie saak nie. Hoe meer jy weet, hoe hoër klim jy uit die hysbak van die lewe in die regte lewe in. Dit maak jou kanse net beter as die ouens wat na skool of selfs vroeër nie kon wag om op te hou leer nie.

Natuurlik is hierdie vergelyking nie ‘n gewaarborgde manier om sukses te behaal nie, maar ‘n lui professionele persoon sal hoogs waarskynlik veel beter vaar as ‘n lui ou wat net-net matriek geslaag het en nooit verder wou leer nie.

Al die ander faktore soos geluk, wie jy ken, waagmoed, talente en luiheid of fluksheid is natuurlik nog belangrik, maar hoe hoër jy uit die opleidingshysbak uitklim, hoe beter.

Dis hoekom jy moet leer op skool. Nie vir vandag nie, maar vir môre. As al die ouers dit tog net vir hulle kinders wil leer. En aanhou leer. Jy moet jou kind laat leer. Moenie sy huiswerk vir hom doen nie. Dis in wese dom en verkeerd. Hy moet dit self doen. Altyd.

* Die skrywer van dié rubriek, dr. Johan de Lange, is ‘n oogspesialis verbonde aan Ocumed-oogkliniek in Vanderbijlpark, wat graag skryf en informeel kommentaar lewer oor die politiek, sport, kultuur, mediese sake en ander interessante sake wat mense daagliks raak.

 

Related Articles

Back to top button