NewsNews

Só het Bankrotbos sy naam gekry

As jy grond het in die Vredefort Koepel en nog nie die elektroniese opnamevorm voltooi het om inligting in te samel oor verklaarde onkruid en indringerplante in dié gebied nie, moet jy gou spring. Die sluitingsdatum is reeds 30 September. Die opname is hoofsaaklik bedoel vir die Vredefort Koepel en word tans gedoen onder leiding …

As jy grond het in die Vredefort Koepel en nog nie die elektroniese opnamevorm voltooi het om inligting in te samel oor verklaarde onkruid en indringerplante in dié gebied nie, moet jy gou spring.
Die sluitingsdatum is reeds 30 September. Die opname is hoofsaaklik bedoel vir die Vredefort Koepel en word tans gedoen onder leiding van myself (Piet Theron).
’n  Webwerf is deur kundiges opgestel wat gebruik word om ’n  opname van die oorwegende spesies wat voorkom, te maak.
Die opname sluit die buffergebied in, hoewel grondgebruikers direk aangrensend aan die buffergebied, ook kan deelneem. Die opname is beskikbaar op www.otop.co.za (Oorlog teen Onkruid-projek). Twaalf spesies van verklaarde onkruid en indringerplante (OIP) is in die elektroniese opnamevorm ingesluit.
Ons vertel jou vandeesweek meer van die Bankrotbos en die Katbos:

Bankrotbos/Bankrupt Bush (Seriphium plumosum)
Die naam Slangbos word ook soms gebruik vir die plant. Dit is ’n  inheemse plant wat weens verskeie redes tot bosverdigting kan lei. Aanvanklik was oorbeweiding die oorsaak vir die voorkoms van Bankrotbos. Aangesien dit geen beduidende voedingswaarde as weiding bied nie, kan dit tot bankrotskap lei as groot hoeveelhede weiding daarmee verdig word – vandaar die naam Bankrotbos.
Dit het egter oor die jare verander. Namate die plant by veranderde omstandighede aangepas het, het dit gebeur dat veld onder goeie bestuur ook met die plant ingeneem word.
Kundiges in die veld het tot die gevolgtrekking gekom dat grond met lae ph en voedingstowwe, baie gunstig vir Bankrotbos is. Die digte besmettings op ou lande wat oor die jare uitgeput is, deur min aanvulling van voedingstowwe (kunsmis en kalk), bevestig die gevolgtrekking.
Indien ou lande dus onttrek word van bewerking moet dit verkieslik nie net so gelaat word vir natuurlike vestiging van gras nie. Om te voorkom dat Bankrotbos so ’n land inneem, word aanbeveel dat kalk en die nodige kunsmis ingewerk word en dat dit met ’n  meerjarige gras gevestig word. Alhoewel dit hoë kostes verg, is dit oor die langtermyn die moeite werd. Dit sal voorkom dat Bankrotbos later ten duurste uitgeroei moet word, in welke geval die bewerking, kunsmis, kalk en grassaad, weer ter sprake sal wees.
Om die bestaande projekte aan die Noordwes en Vrystaatkant van inligting te voorsien word grondgebruikers aangemoedig om tog maar die opnamevorm te voltooi. Grondgebruikers wat intussen wil voortgaan met beheeraksies kan Limpopo (korrels of vloeibaar) of enige produk met Metsulfuron methyl as aktiewe bestanddeel gebruik. Raadpleeg egter eers ‘n kundige, alvorens enige onkruiddoder aangekoop word. [https://pza.sanbi.org/seriphium-plumosum]

Katbos/Wild asparagus (Asparagus spp)
Katbos, by party mense ook bekend as Katstert, is ook ’n  inheemse plant wat tot bosverdigting lei indien dit nie vroegtydig beheer word nie. Dit word hoofsaaklik versprei deur voëls. Dit is dan ook die rede waarom besmettings waar water naby is, baie erger is as op hoërliggende landskappe wat normaalweg baie droër is. Tweedens is dit dan ook die rede waarom dit gereeld onder bome voorkom waar voëltjies die sade uitskei.
Dit maak die beheer daarvan baie moeilik, aangesien onkruiddoder baie omsigtig gebruik moet word om nie die bome ook dood te maak nie.
Daar is ’n  redelike verskeidenheid van onkruiddoders wat gebruik kan word. Die onkruiddoder is egter nog nie beskikbaar in die vorm van staatshulp vir die beheer van Katbos nie. Goeie opnames is dus nodig, in ’n  poging om te onderhandel vir die voorsiening van onkruiddoder deur die Departement van Omgewingsake. Vir meer inligting kan Piet Theron (083 460 9190) gekontak word of deur Google Katbos plant te raadpleeg.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button