NewsNews

Hulp is beskikbaar teen Aarto-misbruike in Gauteng

Na jare van probleme rondom die wettige uitvoering van die Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padoortredings (Aarto) word dit steeds gereeld onder die aandag van die VF Plus gebring dat die probleme voortduur, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.   Adv. Alberts sê dit gebeur gereeld dat Aarto, wat bloot ʼn …

Na jare van probleme rondom die wettige uitvoering van die Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padoortredings (Aarto) word dit steeds gereeld onder die aandag van die VF Plus gebring dat die probleme voortduur, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

 

Adv. Alberts sê dit gebeur gereeld dat Aarto, wat bloot ʼn administratiewe proses is, deur die verkeersowerhede misbruik word om padgebruikers op ʼn onwettige wyse te vervolg.

 

Hy sê die VF Plus wil graag in hierdie verband aan motoriste regsadvies gee rakende die verskeie vorme van wetgewing ter sprake by padverkeersoortredings in Gauteng:

 

Die Nasionale Padverkeerswet kriminaliseer padoortredings deur boetes en selfs arrestasie. Hierdie wet maak gebruik van die Strafproseswet om te verseker dat oortreders vervolg word en maak voorsiening vir die weerhouding van voertuiglisensies indien boetes nie betaal word nie.

 

Dit word in die vooruitsig gestel dat Aarto die Nasionale Padverkeerswet moet aanvul en dit word tans op ʼn toetsfase in Johannesburg en Pretoria toegepas met die doel om dit later landswyd toe te pas. Die oogmerk is dat dit vele van die Nasionale Padverkeerswet se strafprosedures moet vervang.

 

Die doel van Aarto is om padverkeersoortredings te dekriminaliseer en dit op ʼn administratiewe grondslag te bereg. Dit beteken dat die afdwing van die wet nie sal geskied deur oortredings te ag as kriminele oortredings nie, maar as administratiewe oortredings waarvolgens ʼn oortreder ʼn boete opgelê word. Oortreders kan ook op die volgende maniere gestraf word:

 

  1. Vir elke oortreding word punte afgetrek en na ʼn sekere limiet bereik is, kan ʼn persoon sy/haar bestuurslisensie verloor. Hierdie proses word tans nie so toegepas nie. Dit word eers in die vooruitsig gestel wanneer Aarto landdwyd uitgerol word;
  2. Voertuiglisensies kan teruggehou word totdat alle boetes betaal is, maar slegs na ʼn administratiewe proses wat tans nie behoorlik toegepas word nie;
  3. Die owerheid kan beslag lê op ʼn oortreder se bates, soos sy/haar huis en voertuig, wat in eksekusie verkoop kan word om alle boetes te delg;
  4. Nog ʼn groot probleem is dat Aarto streng voorskriftelik is oor spertye met die uitreiking van boetes asook die tye waarin die administratiewe proses gehanteer moet word. Baie van hierdie spertye word deur die owerhede self nie nagekom nie, met die gevolg dat die boetes ongeldig is, soos beaam in die Fines4U-uitspraak. Wat in effek gebeur, is dat die boetes steeds op die e-natis-stelsel geregistreer bly en nie afgehaal word nie ten spyte van die feit dat dit nie meer daar mag verskyn nie. Dit veroorsaak dat mense vir boetes aanpreeklik geword waarvoor hulle regtens nie verantwoordelik is nie. Die minister het in ʼn geskrewe antwoord aan die VF Plus erken dat die boetes verwyder moet word, maar dat dit nie gebeur nie.

 

Dit is egter baie belangrik om die volgende reëls wat jou beskerm oor Aarto in gedagte te hou:

 

  • Niemand mag in hegtenis geneem word oor uitstaande Aarto-boetes nie;
  • Niemand mag by ʼn padblokkade gestop word oor uitstaande Aarto-boetes nie en mag nog minder gedwing word om dit daar te betaal;
  • Aarto-boetes moet persoonlik aan die oortreder oorhandig word of per geregistreerde pos gestuur word anders het dit geen regskrag nie;
  • ʼn Oortreder het die reg om ʼn Aarto-boete te betwis by die Padverkeersoortredingsowerheid (RTIA) en ook in ʼn Aarto-hof daarna. Tans bestaan daar geen Aarto-howe nie en kan die proses dus nie voltooi word nie. Dit beteken as mens jou Aarto-boete na ʼn hof verwys, die boete uiteindelik nie bereg gaan word nie en ongeldig sal word aangesien ʼn mens die reg het om spoedig in ʼn hof te verskyn.

 

Volgens adv. Alberts is meeste Aarto-boetes daarom weens ʼn gebrek aan behoorlike prosesse, onwettig.

 

Hy sê die VF Plus-Gauteng het ʼn samewerkingsooreenkoms aangegaan met kundiges op die gebied, Fines4U, wat vroeër vanjaar ʼn waterskeidings-hofsaak in die Noord-Gautengse Hooggeregshof teen Aarto gewen het. Ingevolge die uitspraak moes Aarto miljoene rande se onwettige boetes afskryf.

 

Fines4U se hoof uitvoerende beampte is Cornelia van Niekerk. Sy kan bereik word deur haar epos, cden@mweb.co.za. Haar telefoonnommer is 082-449-2274.

 

Volgens mev. Van Niekerk is ʼn groot probleem die feit dat mense in baie gevalle nie bewus is van boetes nie. Sy help tans ʼn motorwag wat sy motor se lisensie wou hernu. Dit is geweier en hy het gehoor hy het uitstaande boetes van R1 900. Hy verdien tans sowat R1 600 per maand.

 

Die man het ʼn gulde geleentheid gekry om as koerier te begin werk en dit is nou moontlik van die baan.

 

ʼn Joernalis van ʼn bekende koerant wat mev. Van Niekerk oor hierdie geval gebel het vir ʼn berig, was verbaas toe sy vir hom opkyk en sien dat hy self verskeie uitstaande boetes het. Sy sê dit is daarom belangrik dat mense seker maak daar is geen uitstaande boetes teen hul name nie.

 

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button