Wat jy moet weet van die Maksering en die Witmoerbei
As jy grond het in die Vredefort Koepel en nog nie die elektroniese opnamevorm voltooi het om inligting in te samel oor verklaarde onkruid en indringerplante in dié gebied nie, moet jy gou spring. Die sluitingsdatum is 30 September. Die opname is hoofsaaklik bedoel vir die Vredefort Koepel en word tans gedoen onder leiding van …

As jy grond het in die Vredefort Koepel en nog nie die elektroniese opnamevorm voltooi het om inligting in te samel oor verklaarde onkruid en indringerplante in dié gebied nie, moet jy gou spring.
Die sluitingsdatum is 30 September. Die opname is hoofsaaklik bedoel vir die Vredefort Koepel en word tans gedoen onder leiding van myself (Piet Theron). Ek is ’n afge-trede beampte van die Nasionale Departement van Landbou (DAFF).
Ek het kundiges geraadpleeg om ’n webwerf op te stel wat gebruik kan word om ’n opname van die oorwegende spesies wat voorkom, te maak.
Die opname sluit die buffergebied in, hoewel grondgebruikers direk aangrensend aan die buffergebied, ook kan deelneem. Die opname is beskikbaar op www.otop.co.za (Oorlog teen Onkruid-projek). Twaalf spesies van verklaarde onkruid en indringerplante (OIP) is in die elektroniese opnamevorm ingesluit.
Ons vertel jou vandeesweek meer van die Maksering/Syringa en die Witmoerbei
Maksering/Syringa (Melia azedarach)
Hierdie bome versprei baie vinnig, veral waar die sade in waterlope voortgespoel kan word, en het dus die potensiaal om die biodiversiteit en die gebruik van weiding negatief te beïnvloed.
Hoewel die opnames tot op datum nie groot besmettings aandui nie, is dié een van die hoë prioriteit indringers wat volgens my waarneming reeds groot afmetings in die Koepel aanneem, veral langs waterlope. Daarom moet dit ernstig aangespreek word.
Daar is verskeie chemiese middels wat gebruik kan word. Gevolglik word aanbeveel dat enige kundige wat vertroud is met onkruiddoder, gekontak word. Vir meer inligting kan Piet Theron by 083 460 9190 gekontak word of besoek die webwerf https://www.invasives.org.za/component/k2/item/279-syringa-melia-azedarach

Witmoerbei/White Mulberry (Morus alba)
Hoewel die NEMBA Regulasies aandui dat Kategorie 3 plante vrystelling het en dit dus nie nodig is om uit roei nie, word dit as Kategorie 1 beskou wanneer dit in of binne 50m vanaf ’n rivier of waterloop voorkom.
Indien daar duidelike tekens van indringing voorkom, sou dit wel moontlik wees om die beheer daarvan verpligtend te maak. Aangesien waterlope oor die algemeen, maar spesifiek in die Koepel, as sensitiewe areas beskou word, is dit noodsaaklik dat dit so spoeding moontlik uitgeroei word, ten einde te voorkom dat dit wyer versprei en biodiversiteit nadelig beïnvloed. Waar die bome buite waterlope voorkom, word aanbeveel dat die verspreiding gereeld gemonitor word en die nodige stappe geneem word sodra dit duidelik is dat verspreiding vermeerder. [https://www.invasives.org.za/component/k2/item/285-white-mulberry-morus-alba]




