NewsNews

Musiekuitvoering met Schütz-werke in Vredefort

Op Saterdagaand 5 Augustus om 18:30 vind ’n  uitvoering van gewyde musiek vir kamerkoor en instrumente plaas in die NG Kerk Vredefort, gedirigeer deur die Duitse tenoor en dirigent, Florian Cramer (Freiburg). Die konsert sluit ’n weeklange seminaar in historiese uitvoeringspraktyk af, wat deur Cramer, ’n spesialis op die gebied van baroksang, by die Koepel …

Op Saterdagaand 5 Augustus om 18:30 vind ’n  uitvoering van gewyde musiek vir kamerkoor en instrumente plaas in die NG Kerk Vredefort, gedirigeer deur die Duitse tenoor en dirigent, Florian Cramer (Freiburg). Die konsert sluit ’n weeklange seminaar in historiese uitvoeringspraktyk af, wat deur Cramer, ’n spesialis op die gebied van baroksang, by die Koepel Kunstesentrum op die plaas Deelfontein in die Vredefort Koepel aangebied word. Toegang beloop R100 per persoon.
Die deelnemers, ’n koor van 16 sangers en ’n barokensemble bestaande uit sewe strykers, drie baroktrombone, ’n  dulsiaan (voorganger van die fagot) en orrelpositief, kom uit Potchefstroom, Kroonstad, Kaapstad, Johannesburg en Pretoria. Hulle is ervare musici wat grotendeels al verskeie van die musiekseminare in Vroeë Musiek, wat sedert 2008 by die Kunstesentrum aangebied word, meegemaak het.
Heinrich Schütz se musiek is vandag onbekend, ten spyte van die feit dat hy in sy tyd oor die hele Europa as belangrikste komponis geag is. Hy is gebore in 1585, honderd jaar voor Johann Sebastian Bach, en was vir die grootste deel van sy lewe hofkomponis en dirigent van die Dresdner Hofkapelle aan die hof van Johann Georg van Sachsen, ’n  pos wat hy sy lewe lank behou het.
Die Dertigjarige Oorlog, wat tussen 1518 en 1548 vir die grootste deel van Schütz se beroepslewe gewoed het, het ’n  vernietigende effek op die kulturele lewe in Europa gehad. Ten spyte daarvan kon hy ’n hoogs produktiewe musikale uitset van hoofsaaklik gewyde musiek vir buitengewone godsdienstige geleenthede aan die hof tot aan die einde van sy lang lewe met die ouderdom van 87 handhaaf.
Vandag beywer musiekverenigings dwarsoor die wêreld hulle vir die uitvoering van Schütz se musiek, in die besonder die Internasionale Heinrich Schützvereniging, met sy setel in Duitsland. Ook Suid-Afrika het ’n  eie Heinrich Schützvereniging, wat elke jaar in Julie ’n  Schützweek – ’n  koorseminaar met ‘n gasdirigent uit Duitsland, aanbied.
Op die jaarprogram van die Koepel Kunstesentrum, wat jaarliks verskeie musiekprojekte in histories ingeligte uitvoeringspraktyk aanbied, het Schütz ook ’n vaste plek. Daar vind sedert 2013 elke jaar ‘n Schützkursus op Deelfontein plaas. Aan die einde van hierdie jaar se projek word twee konserte aangebied – in die NG Kerk in Vredefort, en in die Lutherse Johanneskirche in Pretoria-Oos op Sondag 6 Augustus. Kaar-tjies is by die deure beskikbaar. Vooruitbespreking is onnodig aangesien beide kerke baie groot is.
Meer inligting is op www.deelfontein.co.za onder Gebeure beskikbaar

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button