NewsNews

Klag teruggetrek na ‘apie’-twis

Interne klagte teen Jeandré Goliath, ’n student aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus, oor beweerde beledigende en rassistiese uitlatings op Facebook, is Dinsdag teruggetrek. Interne klagte teen Jeandré Goliath, ’n student aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus, oor beweerde beledigende en rassistiese uitlatings op Facebook, is Dinsdag teruggetrek. Hanno Bisschoff, ’n ander student wat Goliath …

Interne klagte teen Jeandré Goliath, ’n student aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus, oor beweerde beledigende en rassistiese uitlatings op Facebook, is Dinsdag teruggetrek.
Hanno Bisschoff, ’n ander student wat Goliath op AfriForum Jeug se Facebookblad ’n “apie” genoem het, is egter tydens ’n tugverhoor in Mei skuldig bevind.
Tydens sy tugverhoor is bevind hy het die universiteit se naam in oneer gebring en rassistiese, diskriminerende uitlatings in sosiale media gemaak. Bisschof is vir twee jaar geskors, maar dit is opgeskort vir die oorblywende tyd van sy studie.
Hy moes ook ’n boete van R5 000 betaal. Goliath is van soortgelyke oortredings aangekla.
Prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU wat aan stuur staan van tugprosedures teen studente, het in ’n mediaverklaring gesê hy het in oorleg met sy senior bestuur besluit om die klagte teen Goliath terug te trek. “Die bewyse (teen hom) het nie werklik die voortsetting van ’n tugverhoor geregverdig nie.”
Die gewraakte kommentare is in Mei op AfriForum Jeug se Facebookblad gemaak waar debat gevoer is oor Afrikaans in regstudie aan die NWU.
Goliath het in die Facebookgesprek onder meer geskryf AfriForum Jeug is onverdraagsaam en swart studente is “moeg om ‘geakkommodeer’ te word”.
Bisschoff het in reaksie gesê Goliath “sypel minderwaardigheid” en sy “sin van geregtigheid is walglik”. “Dis nadat ons ondankbare apies soos julle ’n kans gegee het wat julle die mat onder ons voete uitgepluk het,” het Bisschoff geskryf. “Julle het ’n plunder-mentaliteit, want julle kan nie jul eie suksesvolle instansies bou nie.” Goliath het toe geskryf Bisschoff se “wit heerskappy is om van naar te word”. En: “(Die) plunder-mentaliteit is jou wit Afrikaner-mentaliteit wat dink jy (is) meerderwaardig . . . Dit is hoekom jou inherente rassisme jou toelaat om ander mense ‘apies’ te noem.” AfriForum Jeug het hom Dinsdag sterk uitgespreek teen mense wat die organisasie se sosialemedia-platforms gebruik om aanstootlike en rassistiese uitlatings te maak. Johann Fourie, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder van kampusstrukture, het gesê hulle het enkele minute ná die plasing van dié kommentare daarvan bewus geword en was op die punt om Bisschoff se opmerkings te verwyder, toe hy dit self gedoen het.
“Ongelukkig is skermgrepe daarvan reeds gemaak. Dis jammer dat dit op ons Facebookblad moes gebeur, want dit skep ’n negatiewe beeld van ons. Mense, ongeag hul ras- of taalgroep, moet mekaar nie op sosiale platforms aanvat nie.”
Goliath se kommentaar is ook intussen verwyder, maar dis nie seker deur wie nie. Kgwadi het in ’n mediaverklaring gesê die NWU het die laaste jare hard gewerk aan ’n strategie om te transformeer en die universiteit te vestig as ’n unitêre instelling wat akademies uitblink en tot maatskaplike geregtigheid verbind is.
“Sulke voorvalle is in stryd met my en my span se harde werk om ’n kultuur te skep wat almal insluit en die verskeidenheid binne ons universiteitsgemeenskap omarm terwyl ons sensitief bly vir die historiese konteks. “Dis duidelik ons moet meer doen om studente op te lei om in Suid-Afrika te leer en te werk binne die gees van ons Grondwet.”
Hy het gesê die universiteitsbestuur veroordeel enige vorm van rassisme of diskriminasie ten sterkste.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button