NewsNews

Hewige reaksie oor Bult se slegte naam

Inwoners het behoorlik op Facebook gegons na die Potchefstroom Herald verlede week berig het oor die agteruitgang op die Bult waar veral misdaad en dwelmgebruik hoogty vier. Die berig is 122 keer op Facebook gedeel, dit het ongeveer 40 000 mense bereik en nie een van die nagenoeg 60 mense wat kommentaar gelewer het was …

messteek, Bult

Die berig is 122 keer op Facebook gedeel, dit het ongeveer 40 000 mense bereik en nie een van die nagenoeg 60 mense wat kommentaar gelewer het was positief oor die Bult nie.

Nardus Snyman: Karwagte en straatkinders is die nommer een probleem.
Karien Seaward “Gomsnuifers” en “karwagte” … grootste probleem

Die Herald het met twee karwagte hieroor gaan praat. Een van hulle is Shadrack Lethabo (33), die karwag wat onlangs voor die Wimpy met ’n mes gesteek is.
Hy sê “hier is mense wat op die park kom slaap, hulle rook tik agter die verhoog. Dan is dit net moeilikheid.”
Volgens hom is dit wat gebeur het toe hy met die mes aangeval is. Hy het glo een van die dwelmgebruikers gevang terwyl hy gloeilampies uit voertuie wou steel. ’n Bakleiery het daarna ontstaan.
“Dit is gevaarlike werk die, die studente gee ons ook baie moeilikheid. Veral as hulle in die aande by die kuierplekke uitkom en dronk is,” vertel hy.
Volgens hom het ’n groep studente Maandagaand twee van die wagte aangerand.
Volgens die ander karwag, David Mtombeni (57), werk hulle saam met die Gemeenskap Polisiëringsforum asook die polisie om misdaad te probeer bekamp.
“Maandagaand het ons ’n man gevang wat ’n vuurwapen aan hom gehad het,” het hy vertel.
Albei ontken dat hulle dwelms verkoop en glo die probleem lê nie by die karwagte nie.
“As dit nie besig is nie kry ek maar so R20 vir die dag. Ek werk van 08:00-16:00. Ek soek net geld vir kos,” sê die 57-jarige Mtombeni.

Kobus Delport Inwoners sal moet betrokke raak !
Dewald Jacobs Tensy publiek nie SELF iets omtrent die saak doen nie, gaan dit erger raak.

Volgens Izelle Claassen, eienaar van deMilko,probeer hulle en die besighede om hulle ten minste voor hulle eie winkels alles skoon en netjies hou. “In Borcherdstraat het ons ’n karwag wat elke dag kom help, hy help ook baie om ongewenste elemente weg te hou.”
Sy meen die karakter van die Bult het oor die drie jaar wat haar koffiewinkel daar is baie verander.
“Ek dink een groot probleem is dat gebou-eienaars nie aan besighede verhuur wat bydra tot die karakter van die Bult nie.
Hoewel dit nog goed gaan by ons is ek bekommerd oor die negatiewe invloed wat dit vir ons besighede kan inhou. Die meeste besigheidseienaars is bereid om geld en tyd te spandeer maar almal moet saamwerk” het Claassen gesê.

Ronel Sadie Net soos Sasol dele in die dorp ter wille van die werknemers in stand hou, dink ek die Universiteit kan bietjie breër begin dink in terme van veiligheid van studente… Maklik om skouers op te trek en te sê. Dit val nie binne die grense van die Universiteit nie.
Ruzanne Janzen Van Rensburg Die belaglikste is. Ons het kinders wat daar swot. Dis tog die area waar hulle gaan koffie drink, geld trek ens. Dis naby aan die Pukke so dis gerieflik vir die studente. Die Puk het duisende ingeskrewe studente. Kan hulle nie ook betrokke raak?

Volgens Louis Jacobs, woordvoerder van die Noordwes-Universiteit, is die veiligheid van studente vir hulle ‘n prioriteit. Daarom is hulle besig om met die stadsraad te onderhandel oor ‘n projek om die veiligheid in die groter Bult aan te spreek.Wyksraadslid, Santi Britz, het in verlede week se berig oor die Bult gesê die projek behoort voor Aardklop reeds afgehandel te wees.
Sy wou nie uitbrei oor presies wat die projek behels nie.

Related Articles

Back to top button