Photo GalleriesSport

Rugby is meer as net 80 minute, dis ‘n leefstyl

Naweek na naweek speel rugbyspanne in wegwedstryde en meeste van die tyd sien ons as toeskouers en rugbyliefhebbers net die 80 minute se spel op die veld. Verlede naweek was ‘n uitsondering vir hierdie joernalis wat saam met die Luiperds se o.19–span na Emirates Airline Park vir hulle kragmeting teen die Leeus se o.19 welpies… …

Die tonnel wat na Emirates Airline Park lei is een van die indrukwekkendste aspekte van die tradisieryke stadion

Die tonnel wat na Emirates Airline Park lei is een van die indrukwekkendste aspekte van die tradisieryke stadion

Naweek na naweek speel rugbyspanne in wegwedstryde en meeste van die tyd sien ons as toeskouers en rugbyliefhebbers net die 80 minute se spel op die veld.

Verlede naweek was ‘n uitsondering vir hierdie joernalis wat saam met die Luiperds se o.19–span na Emirates Airline Park vir hulle kragmeting teen die Leeus se o.19 welpies gereis het. Voorbereiding is die sleutelwoord vir hierdie spelers, wat ‘n hele uitgewerkte roetine voor elke wedstryd handhaaf. Hier is ‘n opsomming van alles wat op wedstryddae gebeur.

1) Die wiele begin rol op die bus:

Hierdie jong rugbyspelers is die oggend al vroeg uit die bed met ‘n spanvergadering teen omstreeks 08:00, waarna daar ontbyt geëet word voor hulle vir die groot wedstryd vertrek. Hier word die dag se verloop sowel as ‘n klomp logistieke aspekte aangeraak.

Die busroete self is ‘n interessante affêre juis omdat elke speler klaarblyklik sy eie roetine het om die 90 minute busrit saliger te maak. Musiek dreun in party spelers se ore, sommige knip ‘n uiltjie, terwyl ander gesels en bande bou. Die afrigters, Hannes Esterhuizen en Chaka Willemse, sowel as spanbestuurder, Neels Manuku kyk ‘n DVD op die bus om te ontspan en met die aankomslag klim almal vars en verfris van die bus af. Nou is dit tyd vir aksie!

2) Welkom by die Leeus se huis:

Met die aankoms by Emirates Airline Park voel ‘n mens die geskiedenis soos ‘n warm kombers aan jou klou. Links en regs op die ingangsportaal se mure is foto’s en gedenkstukke wat die ryke geskiedenis uitbeeld. Om by die kleedkamers te kom moet ‘n mens met ‘n stel trappe afgaan, aangesien die stadion onder die grondvloer is. Die kleedkamers self is ‘n belewenis met uitstekende fasiliteite wat van internasionale standaard getuig.

Hierdie Luiperds o.19 spelers se oë rek wanneer hulle die fasiliteite sien – en met goeie rede. Die spanbestuurder Manuku maak seker dat elke speler se trui, broek en kouse gereed is vir die spelers om na die opwarmingsessie aan te trek. Waterbottels word gevul, koelhouers word met ys gelaai en proteïendrankies word aangemaak.

3) Strek en strap:

Hier is waar die spelers hul gereed maak vir die groot uitdaging danksy Elaine Marais, die fisioterapeut van die span. Saam met kondisioneringsafrigter, Bert Moolman word daar verbande en pleisters in ‘n intensiewe pleistersessie aangesit en spiere word gestrek om beserings in hierdie kontaksport te voorkom. Hier en daar het ‘n speler ‘n skeet of twee maar daar is niks te ernstig wat ‘n speler sommer van die veld sal hou nie.

4) Die gras onder jou voete:

Die spelers het omtrent ‘n halfuur om op dié ikoniese veld op te warm en vir meeste van hierdie jong spelers is dit hul eerste keer wat hulle met rugbytokse die gras van hierdie geskiedkundige stadion aanvoel. Die tonneltjie wat spelers na die veld toe lei, is iets om te beleef – geen wonder rugbyspelers is so gemotiveerd en vol energie wanneer hulle opdraf nie!

Foto’s: Wouter Pienaar

Tydens die wedstryd is gemoedere soms hoog en laag, afhangend van wat op die veld gebeur. Toe Dylan Schoeman  ‘n drie druk vir die Luiperds, was daar ‘n gejuig en gelukwensing van die kantlyn af. Toe die Leeus die voortou neem, was gemoedere effens laer. Manuku is ook op die kantlyn by die spelers en dien as die tussenganger vir instruksies van die afrigters oor watter plaasvervangers op die veld moet kom onder ander wedstrydstrategieë.

6) Terug na die Weste:

Om te verloor is nooit lekker nie, veral as daar ook beserings daarmee gepaard gaan. ’n Paar van hierdie Luiperdspelers klim maar hinkepink op die bus na ‘n klipharde wedstryd. Die spelers kry middagete op die bus terug en sodra die kos gesak het, neem die moegheid oor en is die meeste se oë toe.

Daar is beslis ‘n rustiger atmosfeer – ‘n mengsel van nadenke sowel as vooruitsigte is nou op die denkpatroon. Komende naweek is daar weer 80 minute se rugby om te speel, dié keer op Olënpark teen die Haaie Saterdag om 11:00.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button