NewsNews

Dié indringers steel ons water

As jy grond het in die Vredefort Koepel en nog nie die elektroniese opnamevorm voltooi het om inligting in te samel oor verklaarde onkruid en indringerplante in dié gebied nie, moet jy gou spring. Die sluitingsdatum is 30 September. Die opname is hoofsaaklik bedoel vir die Vredefort Koepel en word tans gedoen onder leiding van  …

As jy grond het in die Vredefort Koepel en nog nie die elektroniese opnamevorm voltooi het om inligting in te samel oor verklaarde onkruid en indringerplante in dié gebied nie, moet jy gou spring.
Die sluitingsdatum is 30 September. Die opname is hoofsaaklik bedoel vir die Vredefort Koepel en word tans gedoen onder leiding van  myself (Piet Theron). Ek is ‘n afgetrede beampte van die Nasionale Departement van Landbou (DAFF).
Ek het kundiges geraadpleeg om ’n  webwerf op te stel wat gebruik kan word om ’n  opname van die oorwegende spesies wat voorkom, te maak.
Die opname sluit die buffergebied in, hoewel grondgebruikers direk aangrensend aan die buffergebied, ook kan deelneem. Die opname is beskikbaar op www.otop.co.za (Oorlog teen Onkruid-projek). Twaalf spesies van verklaarde onkruid en indringerplante (OIP) is in die elektroniese opnamevorm ingesluit.
Ons vertel jou vandeesweek meer van Bloekombome en Populiere wat onder meer op die lys is.
Bloekombome / Blue Gums (6 Eucalyptus spesies in NEMBA en 7 in CARA)
Die ses spesies wat in NEMBA regulasies gelys is, is as volg; camaldulensis, cladocalyx, conferruminata, diversicolor, grandis, en tereticornis. Camaldulensis, of die Rooibloekom, is van groot belang vir die Vredefort Koepel, aangesien dit die spesie is wat in groot getalle in en langs die Vaalrivier voorkom.
Bloekombome wat in en langs waterlope voorkom soos in die aangehegte foto is uiters nadelig vir ’n  land waar water as ’n  skaars natuurlike hulpbron verklaar is.
Dit is ’n bekende feit dat hierdie bome groot hoeveelhede grondwater gebruik. ‘n Groot boom kan tot 600 liter water per dag gebruik. Dit behoort die grootste motivering te wees om dit uit te roei. Dit is ongeveer die hoeveelheid water wat ses mense per dag gebruik.
Gevolglik word ’n  ernstige beroep op grondeienaars gedoen om hierdie bome uit te roei, veral waar dit in of binne 50 meter van ’n  waterloop of vleiland voorkom.
Ingevolge die nuwe NEMBA regulasies kan groot bome binne 50 meter vanaf ’n  plaasopstal of gebou egter behoue bly.
Daar is meer as 200 verskillende Eucalyptus-spesies, en slegs die bostaande word as ongewens beskou. Vele spesies is baie nuttig en is onder andere belangrik vir bye. Goeie oordeel moet dus aan die dag gelê word om te bepaal watter bome kan behoue bly. [https://www.invasives.org.za/component/k2/item/249-red-river-gumeucalyptus-camaldulensis] Populiere.
Slegs twee spesies. Populus alba (Witpopulier) en Populus x canescens (Vaalpoulier) is in beide die NEMBA en CARA wette gelys as Kategorie 2 verklaarde indringerplante. Die hout van Populier is van goeie gehalte omdat dit normaalweg nie deur kewers gevreet word nie en was vroeër vir dakkappe, sparre vir heinings ensovoorts gebruik.
Hierdie bome gebruik egter groot hoeveelhede water en kom gewoonlik voor waar fonteine oorspronklik water aan mens en dier voorsien het.
Dit behoort tog voor die hand liggend te wees dat dit uiters ongewens is om toe te laat dat populiere ongestoord gelaat word op terreine soos op die aangehegte foto voorkom.
Deur hierdie bome stelselmatig uit te roei, sal baie meer water weer in spruite en vleie begin vloei en kan groot kostebesparing vir veesuipings meebring met slegs ’n bietjie beplanning.
Dit is dalk nodig om weer te beklemtoon dat volgens beide bogenoemde wette verklaarde indringers nie op enige grond mag voorkom nie. Die implikasie is dus dat dit onwettig is om indringerplante en in hierdie geval, populiere op ‘n plaas toe te laat.
Slegs deur aansoek te doen vir ‘n permit kragtens bogenoemde wette kan die voorkoms van indringers gewettig word. Gevolglik word ’n  dringende beroep op alle grondgebruiker gedoen om daadwerklik beheerplanne in plek te kry om indringerplante soos populiere te begin uitroei of andersins aansoek te doen vir permitte om dit behoue te laat bly. Vir meer inligting skakel my by 083 460 9190 of besoek die webwerf. [https://www.invasives.org.za/component/k2/item/312-white-poplar-populus-alba]

Related Articles

Back to top button