NewsNews

Gesellige aanlyn-skurke skuil in die Vaal

Die internet het vele nuwe deure vir die mensdom oopgemaak. Een daarvan is dat dit aanlynmarkte soos eBay, OLX, Takealot, aFreaka, Junk Mail en vele meer moontlik maak waar kopers en verkopers mekaar kan ontmoet Illustrasiefoto   Retha Fitchat VANDERBIJLPARK. – Die internet het vele nuwe deure vir die mensdom oopgemaak. Een daarvan is dat …

Illustrasiefoto

 

Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Die internet het vele nuwe deure vir die mensdom oopgemaak. Een daarvan is dat dit aanlynmarkte soos eBay, OLX, Takealot, aFreaka, Junk Mail en vele meer moontlik maak waar kopers en verkopers mekaar kan ontmoet en derduisende transaksies daagliks wêreldwyd beklink word. Maar waar daar geld ter sprake is, sit misdadigers gewoonlik ook gereed om niksvermoedende mense in ‘n valstrik te lei.

Dit blyk dat sulke misdadigers hul skelm bedrywighede selfs hier uit ons eie Vaaldriehoek beplan en bedryf. Drie mense van ander streke het die afgelope maand aan Vaalweekblad gerapporteer dat hulle onder valse voorwendsels via aanlynmarkte deur skelms na die Vaaldriehoek gelok is om goedere hier te kom koop of verkoop, maar dat hulle met leë hande of onverrigter sake huis toe is.

Wanneer ‘n verkoper van elders in die land byvoorbeeld ‘n voertuig aanlyn adverteer, word hulle uit die Vaaldriehoek gekontak deur ‘n “gesellige Namibiër” wat sê dat hy net tydelik in die land is en beslis die voertuig sal koop as dit vir hom gebring kan word. Die verkopers (in hierdie geval onderskeidelik van Middelburg en Pretoria) moes hul voertuie dan na Vanderbijlpark of Vereeniging bring, waar die geld aan hulle oorhandig sou word.

In albei gevalle moes die verkopers, wat anoniem wil bly, die koper by ‘n winkelsentrum ontmoet, waar die koper die geld aan hulle sou gee. In albei gevalle was daar dan nie ‘n tak van die koper se bank waar hy geld kon trek nie, en die verkopers is in albei gevalle versoek om in die verkoper se voertuig na ‘n ander winkelsentrum te ry, waar die koper wel geld sou kon trek.

“Ek het dit vreemd gevind dat die koper as besoekende Namibiër die Vaaldriehoek so goed ken. Hy het selfs geweet waar daar slaggate in die pad was en ons versigtiger moes ry,” sê een van die klaers.

By die tweede sentrum het ’n Indiërman skielik by hulle aangesluit en ook in die voertuig geklim. In die kar het hy ’n kamerasak oopgemaak wat vol note en blink klippies was.

“Ek het dadelik geweet iets is ernstig verkeerd en het vir hulle gesê dat ek hier is om ’n kar te verkoop en niks anders nie.”

Die Indiërman het toe uitgeklim om geld te gaan trek, maar het minute later sy makker geskakel en gesê hy moes “skielik Grasmere toe gaan” en dat hulle hom daar moes ontmoet vir die geld.

“Die makker het aangedring dat ons daarheen moes ry om die geld te kry,” vertel die verkoper van Middelburg.

Die verkoper het besef dinge begin sleg skeefloop en wou hom liewer uit die voete maak. Hy het die “koper” R200 gegee net om hom uit die kar te kry en toe maar druipstert teruggery Middelburg toe. Daar aangekom, het hy sy kollegas van die voorval vertel. Twee van hulle wat motorfietse in ‘n aanlynmark geadverteer het, het na die drie nommers gekyk waarop die skelms die klaer geskakel het, en dit met nommers van belangstellende kopers vir hul eie motorfietse vergelyk. Die resultaat was ontstellend. Al die nommers het ooreengestem, wat daarop dui dat die Vaaldriehoekse skelms verskeie adverteerders in verskillende aanlynmarkte regoor die land teiken. Dit is nie duidelik presies wat die skelms se plan met die verkopers en hul voertuie was nie, maar hul motiewe was ongetwyfeld nie suiwer nie.

“’n Oud-polisievriend vertel my dat vervalste geld of diamante in jou kar ‘geplant’ word, op pad waarheen die skelms jou ook al laat ry. Jou voertuig word dan ‘toevallig’ deur polisiemanne wat vermoedelik met die misdadigers saamwerk, afgetrek. Die ‘koper’ word laat gaan omdat hy ’n Namibiese paspoort het en net ’n rygeleentheid by jou gekry het, waarna die polisiemanne jou opskroef vir omkoopgeld,” sê die klaer.
Sjarmante skelms lei selfs boer aan die neus
VEREENIGING. – In ‘n ander aanlyntransaksie wat heeltemal ontspoor het, het ‘n Nelspruitse boer wat sy 2005 BMW X3 vir ‘n belangstellende koper na Vereeniging gebring het, ook lelik op sy neus gekyk.

Hy wou R75 000 vir die voertuig hê. Die deftig geklede swart egpaar, wat die voertuig wou koop, het hom dadelik R10 000 kontant gegee toe hulle by ‘n kitskosrestaurant ontmoet het. Hulle het voorgestel dat die boer en sy vriend, wat moeg was na die lang rit, solank iets moes eet en drink terwyl hulle die res van die geld gaan trek. Die sjarmante egpaar het selfs hul skootrekenaar by die verkoper gelos en gesê hulle sou ‘n rukkie later weer met die res van die geld by hulle aansluit. Hulle het so geloofwaardig voorgekom dat die boer sy voertuigsleutel én voertuig met vertroue aan hulle beskikbaar gestel het om bank toe te ry. Dit was die laaste sien van die BMW en die egpaar.

“Die R10 000 was wel eg, maar die laptop werk glad nie en die skerm is buitendien onherstelbaar gekraak. Seker iewers gesteel. Dit was ‘n duur les van R65 000. Die voertuig was nie meer verseker nie. Van hier af vertrou ek niemand meer nie,” sê die boer.

Dit is duidelik dat aanlyn-kriminele uiters slinks en sjarmant is. Hulle boesem gewoonlik soveel vertroue in dat die slagoffer nie maklik snuf in die neus kry nie.

Die aanlynmark OLX gee die volgende raad wanneer jy ‘n transaksie oor die internet oorweeg:

* Wees versigtig as ‘n transaksie of prys te goed klink om waar te wees.

* Dink twee keer as ‘n verkoper eers betaling wil hê voordat die artikel afgelewer word of as ‘n koper eers die produk wil hê voordat hy betaal.

* Ruik lont as die koper of verkoper jou nie in ‘n openbare plek kan ontmoet nie, maar daarop aandring om die handelsware of voertuig persoonlik af te lewer of in ontvangs te neem.

* Jy kan ook onraad vermoed as die koper of verkoper aandring op jou persoonlike inligting soos jou bankbesonderhede, jou e-pos adres of jou debiet- of kredietkaartnommer.

* Wees ook versigtig as die koper beweer dat hy van ‘n ander land is.

Aanlynmarkte het gewoonlik ‘n “report item button” op hul webwerwe waar kliënte ‘n verdagte advertensie kan aanmeld of ‘n kriminele transaksie kan rapporteer. OLX versoek dat almal wat sulke negatiewe ervarings gehad het, dit so gou as moontlik moet aanmeld sodat dié soort misdadigers dadelik geblokkeer kan word.

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button